Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie ondersoek ‘swak dienslewering’ in Bloem

Die polisie in die Vrystaat het vandeesweek ontken dat drie polisiekantore in Bloemfontein nie voertuie gehad het om na misdaadtonele uit te gaan nie.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder. Foto: André Damons

Bewerings van swak dienslewering word egter in ’n ernstige lig beskou en ’n interne ondersoek word gedoen.

Reaksiebeamptes en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) kon Donderdag- en Vrydagaand nie ’n polisievoertuig op misdaadtonele in Bayswater kry nadat hulle verdagtes aangekeer het nie.

In die eerste voorval Donderdagaand het beamptes ’n man by ’n huis in Bayswater aangekeer nadat hy ’n erf betree het.

Die veiligheidsmaatskappy se beheerkantoor het eers die Bayswater-polisiekantoor gebel en toe hulle nie regkom nie, het hulle die Navalsig- en Parkweg-polisiekantoor gebel. Hulle is telkens ingelig dat daar nie ’n voertuig beskikbaar is nie.

Die polisie se 10111-nommer kon ook nie help nie omdat hulle “ ’n belangriker saak” gehad het.

Die reaksiebeamptes het die man toe self na ’n polisiekantoor gebring.

Die volgende aand het lede van die Bayswater-GPF en beamptes van ’n veiligheidsmaatskappy ’n verdagte aangekeer wat glo vroeër gereedskap van ’n bakkie af gesteel het.

Toe hulle die Bayswater-polisiekantoor bel, was daar weer geen voertuie beskikbaar nie. Die beamptes het ook gesê daar is net drie van hulle (twee vroue en ’n man) en hulle kan nie na die toneel kom nie.

Radie Ferreira, voorsitter van die AfriForum-tak in Rayton en Heuwelsig wat ook betrokke is by die Bayswater-GPF se sektor 1, sê toe hy 10111 bel, het ’n beampte gevra of hy self die verdagte na die polisiekantoor kan bring.

Albei die voorvalle was tussen 17:00 en 19:00. Die polisie wissel om 18:00 hul skofte.

“Dit laat ’n mens wonder hoekom doen ons dit nog. Hoekom probeer ons ’n verskil maak? Die polisie sê ons moet hulle help, maar as ons hulp nodig het, kan hulle ons nie help nie.

“Ons is afhanklik van mense wat ons by die polisiekantore ken om ons te help. Is dit nog die moeite werd?”

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê dit kan nie waar wees dat geen voertuie beskikbaar was nie omdat al drie polisiekantore op die betrokke dae toegerus was met voldoende hulpbronne en mannekrag.

Dit sluit nie die hulpbronne in wat deur die 10111-sentrum ontplooi word nie.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat brig. Kgothatso Ramokotjo die bewerings van swak dienslewering ernstig opneem en ’n interne ondersoek begin het.

“Beamptes wat aan diens is, werk totdat die ander skof heeltemal oorgeneem het. Daar is duidelike opdragte dat die bevelvoerders altyd inkomende klagtes moet prioritiseer,” sê Mbambo.

Volgens haar is daar niks wat gemeenskapslede of beamptes van veiligheidsmaatskappye en GPF-lede verbied om verdagtes na die polisiekantoor te bring nie.

Die gemeenskapsveiligheidstrukture en patrolleerders kry opleiding en hulle word altyd aangemoedig om verdagtes aan te hou totdat die polisie opdaag, maar hul veiligheid moet altyd voorkeur geniet, sê sy.

“Enige lid van die publiek wat nie ’n polisievoertuig of bystand kry nie, moet die stasiekommissaris van die betrokke polisiekantoor kontak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.