Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie ondersoek voorval waarin hond tiener byt

’n Bloemfonteinse tiener moes steke aan haar binneboud en vinger kry nadat ’n “bloeddorstige” hond haar Sondag in die Heidedal-woonbuurt aangeval het.

Die 14-jarige meisie moes sewe steke aan onder meer haar binneboud en haar vinger kry nadat ’n pitbull haar Sondag net ná 16:30 in die woonbuurt aangeval het.

Die wond aan ’n 14-jarige meisie se vinger nadat sy Sondag deur ’n pitbull in Heidedal aangeval is. Foto: Verskaf

Sy was op pad na ’n huiswinkel toe die voorval gebeur het en het bebloed en skreeuend na haar tante se huis gehardloop.

Die meisie se familie is ook glo twee keer by polisiekantore weggewys waar hulle ’n saak aanhangig wou gaan maak.

Sanette Maarman, die 14-jarige meisie se tante, sê ’n polisiebeampte by die Heidedal-polisiekantoor wou nie Sondag ’n saak oopmaak nie en het die familie versoek om Maandag na die polisiekantoor terug te keer. Volgens Maarman is geen rede hiervoor aangevoer nie.

Ook ’n telefoonoproep na die Parkweg-polisiekantoor het niks opgelewer nie. Die operateur het glo die telefoonoproep afgesny.

Ao. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek Maarman se bewerings dat hulle weggewys is.

Maarman sê dit is nie die eerste keer dat die honde kinders en selfs volwassenes aanval nie.

“ ’n Tydjie gelede is ’n vrou wat saam met haar kind in die straat geloop het, ook deur die hond aangeval. Toe is daar ook niks gedoen nie. Niemand wil iets doen nie, nie eens die polisie nie.”

Sy sê die honde is “bloeddorstig” en kwyl loop uit hul bekke as mense verby die huis loop.

“Die straat se kinders is erg getraumatiseer. Hulle kan nie kinders wees en vrylik in die straat speel nie, want hulle vrees die honde.”

Maarman sê sy kan nie hande gevou staan en wag totdat nog iemand deur die honde aangeval word nie.

Ek verstaan dat die honde dalk vir beskerming daar is, maar hoeveel mense moet nog gebyt word, hoeveel kinders moet nog seerkry?

“Ek verstaan dat die honde dalk vir beskerming daar is, maar hoeveel mense moet nog gebyt word, hoeveel kinders moet nog seerkry? Hier is drie skole in die omgewing met talle kinders wat daagliks hier verbyloop.”

Met Netwerk24 se besoek was die eienaar van die honde nie tuis nie. ’n Besoeker het gesê die honde-eienaar is tans in Johannesburg. Die besoeker het die voorval bevestig, maar gesê die honde-eienaar was nie tuis tydens die voorval nie. Sy het verder gesê die honde het uitgeglip toe ’n motor in die erf in gery het.

Earle het bevestig ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, word ondersoek.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Byt  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.