Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie slaan toe op biddiens in Bloemfontein
’n Skermgreep van past. At Boshoff tydens die Christian Revival Church se kerkdiens Sondagoggend in Pretoria. Foto: Skermgreep

Die polisie het Sondagoggend toegeslaan op ’n biddiens van die Christian Revival Church- (CRC) gemeente in Bloemfontein.

Sumara du Preez, woordvoerder van CRC, sê by navraag lede van die Parkweg-polisiekantoor, onder leiding van hul stasiebevelvoerder, asook lede van die weermag, het Sondagoggend by hul biddiens opgedaag.

“Dit het vir ons gelyk asof hulle ’n duidelike doelwit gehad het om ons pastore, lidmate en vrywilligers te arresteer,” sê Du Preez. Niemand is volgens haar egter in hegtenis geneem of beseer nie.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het die voorval bevestig en gesê polisie het opgetree nadat hulle ’n klagte oor die kerkbyeenkoms ontvang het. Hy het bevestig niemand is in hegtenis geneem nie.

“Toe ons daar kom, het hulle vir ons gesê hulle pak nog kospakkies om KwaZulu-Natal toe te stuur. Hulle is dadelik versoek om op te hou met waarmee ook al hulle besig was.”

Makhele het by navraag gesê hy wonder of die gemeente ingelig is oor die aangepaste vlak 4-regulasies.

“Kerke mag nie fisieke byeenkomste of dienste hou nie. Niks nie, nie eens bidure nie,” sê hy.

“Dit is teen die wet en dis hoekom daar teen hulle opgetree moet word.”

Du Preez sê pastore wat teenwoordig was, het die Vrystaatse polisiekommissaris gebel om te verduidelik dat hulle besig is om te bid vir die land en hulppakkies vir mense in KwaZulu-Natal en Gauteng saam te stel.

Volgens haar het die lede op die toneel geweier om met die kommissaris te praat.

Volgens Du Preez is die biddiens gehou “ná pres. Cyril Ramaphosa se oproep dat kerke vir die land moet bid” ná die onlangse oproer en verwoesting.

’n Skermgreep van die Christian Revival Church se diens in Pretoria, wat ook regstreeks uitgesaai word. Ingevolge aangepaste vlak 4-regulasies mag geen byeenkomste egter gehou word nie. Foto: Skermgreep

CRC het Vrydag nege vragmotors vol kos en ander produkte, ter waarde van miljoene rande, na KwaZulu-Natal gestuur om families en gemeenskappe daar te help. Die kerk beoog om in die tweede fase van die projek CRC Cares nog produkte na Gauteng te neem.

Past. At Boshoff het Sondagoggend op ’n regstreekse diens uit Pretoria melding gemaak van die voorval in Bloemfontein.

“Ons het pas nuus ontvang dat baie van ons pastore in Bloemfontein gearresteer word (sic). Dis ’n hartseer dag, een wat ons gebid het nooit sal aanbreek nie.

“Dis hartseer dat ons bid vir vreedsaamheid en genesing in hierdie land, op ’n verantwoordelike manier, en dit is dan wat gebeur,” sê hy.

“Dis onaanvaarbaar, absoluut onaanvaarbaar.

Lede van die polisie en die weermag Sondagoggend by ’n biddiens van die Christian Revival Church in Bloemfontein nadat hulle klagtes hieroor ontvang het. Ingevolge aangepaste vlak 4-regulasies mag geen byeenkomste gehou word nie. Foto: Verskaf

“Ons het dwarsdeur die inperking die pad gevolg waarop ons die regering ondersteun, maar as hulle begin om pastore in die kerk te arresteer, sal ek nie verder in die publiek iets daaroor sê nie.

“Vanoggend se diens was veronderstel om ’n bidgeleentheid vir ons ministers te wees,” het Boshoff aan die begin van die diens gesê.

Volgens hom het hy in die afgelope nege vergaderings wat hy met Ramaphosa gehad het, ’n pleidooi gelewer dat kerke heropen word.

“Ons vra dat hy ons ’n plek aan tafel gee en ons toelaat om te doen wat net ons kan doen.

Lede van die polisie en die weermag Sondagoggend by die Christian Revival Church in Bloemfontein. Foto: Verskaf
Lede van die polisie en die weermag buite die gebou van die Christian Revival Church in Bloemfontein. Foto: Verskaf

“Daar is sekere goed wat net wetenskaplikes kan doen, ander dinge wat net politici kan doen, wat net polisie kan doen, wat net die weermag kan doen. Maar daar is sekere goed wat net die kerk van Jesus Christus kan doen en die kerk kan nie meer stil gehou word nie.”



Meer oor:  Diens  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.