Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie sluit Bloem-boeremark, uitstallers briesend
Die polisie wat die boeremark in Bloemfontein Saterdag gaan sluit het, staan hier by die hek en wag dat die uitstallers moet op pak. Foto: Verskaf

Sowat 200 uitstallers van ’n boeremark in Langenhovenpark, Bloemfontein, wil eise instel nadat die polisie Saterdag die mark weens Covid-19-inperkingsmaatreëls gesluit het. Die uitstallers sê hulle het duisende rande aan inkomste verloor.

Ds. Leon Oosthuizen, organiseerder van die mark, sê die dispuut gaan daaroor dat die markterrein ’n spesiale ekonomiese sone is en nie ’n vlooimark nie, wat ingevolge vlak 4-inperkings nie toelaatbaar is nie. Dit volg nadat die Mangaung-metro verlede jaar die markterrein gehersoneer het tot ’n plek vir ’n spesifieke ekonomiese aktiwiteit.

Boonop het die polisie op die vorige twee markdae daar rondgeloop en niks gedoen of gesê nie, sê Oosthuizen.

“Maar Saterdag is vir my kom sê dat hulle my gaan beboet, terwyl uitstallers wat van verafgeleë plekke gery het en ander wat al ’n groot klomp vleis vir die dag gebraai gehad het, summier gesê is om op te pak en huis toe te gaan.”

’n Vrou sit moedeloos op die grond met haar sop nadat die polisie Saterdag vir haar gesê het om op te pak. Sy het gesê sy is werkloos en dat die sopverkope vir haar brandstof vir die maand betaal. Foto: Marietjie Gericke

Hy sê syns insiens beteken verlede jaar se hersonering dat die terrein nou as ’n opelug-winkelsentrum dien en onder dieselfde regulasies as ’n inkopiesentrum val.

“Ons doen dus moeite met sanitasie, toegangsbeheer, asook om mense aan te moedig om gesonde afstande te handhaaf.”

Oosthuisen sê van die mense het hul werk verloor en is van die mark afhanklik vir oorlewing. “Van die uitstallers van buurlande het duur vir openbare vervoer betaal om tot hier te kom.”

Netwerk24 se telefone het Saterdagoggend onophoudelik gelui toe uitstallers en ontevrede inwoners hulle lot bekla het.

Willem Pretorius, van Bloemfontein, het gesê die optrede van die polisie herinner aan die gevalle waar die polisie op strande rondgeloop en branderplankryers in hegtenis geneem het.

“Dit is dieselfde modus operandi. Hoekom is die Bainsvlei-stasiebevelvoerder, wat Saterdag saam met haar span die mark kom sluit het, nie eerder Durban toe gestuur nie? Die mark is niks anders as ’n winkelsentrum nie. Word mense by die Northridge Mall uit restaurante verjaag,” wou hy weet.

Polisievoertuie Saterdag by die boeremark in Bloemfontein, waar uitstallers aangesê is om op te pak en huis toe te gaan. In ’n stadium was daar vier polisievangwaens by die hek. Foto: Verskaf

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, het in ’n verklaring gesê die polisie het teruggestaan toe massas ondersteuners van Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, met sy hofverskynings in Bloemfontein saamgedrom en Covid-19-maatreëls oortree het. “Maar nou word daar op uitstallers van die boeremark in Bloemfontein toegeslaan waar hulle van die weeklikse ekonomiese instelling afhanklik is vir hul eie oorlewing.”

Willie en Helene Marais van Bloemfontein, wat die Koffiekraal-stalletjie bedryf, sê hulle is al 23 jaar op die mark en het Saterdag baie groot skade gely.

“Ek het Saterdagmiddag uitstallers gekontak om te probeer vasstel wat hul beraamde verliese is. Daar is uitstallers wat sê dat hulle na raming tot R20 000 verloor het,” het Helene gesê.

Sy sê hulle is verslae en hartseer. “Die verkope op die mark is 90% ons brood en botter vir die maand.”

Sy sê daar is ander uitstallers met ’n karige pensioen wat afhanklik is van die bykomende inkomste wat hulle so verdien.

“Ons vertroue is in ons Hemelse Vader wat reg sal laat geskied en wat vir ons sal voorsien.”

Gewapende polisie wat die boeremark in Langenhovenpark in Bloemfontein Saterdag gaan sluit het. Foto: Verskaf

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, het by navraag gesê die polisie by die mark was nie swaar gewapen soos wat sommige uitstallers op die sosiale media gesê het nie.

“Niemand is gedreig of mishandel nie. Al hoekom die polisie daar was, was om die wet toe te pas.”

Makhele sê ingevolge die Covid-19-inperkingsmaatreëls, wat tot 25 Julie geld, is dit verbode om kerk-, kulturele, vermaak- en ander aktiwiteite by te woon.

“Dit sluit vlooimarkte, basaars, nagklubs, casino’s, museums, biblioteke ens. in,” sê hy.

Meer oor:  Boeremark  |  Polisie  |  Bloemfontein  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.