Die polisie is op soek na ’n Vrystaatse gesin wat spoorloos verdwyn het.
Hulle was glo in Alberton aan die Oos-Rand toe enigiemand laas kontak met hulle gehad het.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê Victor Bosman (55), Charlene Lombard (27) en hul seun, Jay (5), het op 18 Januarie van Odendaalsrus na Secunda geryloop.

Victor Bosman (55) word saam met sy lewensmaat en kind vermis. Foto: Verskaf

Charlene Lombard (27) het saam met haar lewensmaat, Victor Bosman, (55), en hul seun, Jay (5), verdwyn. Foto: Verskaf

Jay Lombard (5) het saam met sy ouers vermoedelik in Alberton verdwyn. Foto: Verskaf
Bosman kon moontlik werk in Secunda kry.
Makhele sê die gesin het op 21 Januarie in Secunda aangekom en by ’n vriend op die dorp oornag.
Die vriend het hulle die volgende dag na die taxistaanplek geneem sodat hulle van daar terug na Odendaalsrus kon reis.
Die vriend van Secunda sê Bosman het hom later die dag, op 22 Januarie, gebel en geld vir kos gevra.
Bosman het toe gesê hulle is in Alberton.
Die vriend het geld oorbetaal in Bosman se bankrekening maar sedertdien kon niemand weer met hulle kontak maak nie.
Makhele sê bekommerde familielede het hulle by die polisie in Odendaalsrus as vermis aangemeld.