Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie soek man wat 8-jarige glo wou ontvoer

’n Agtjarige meisie van Goodwood het vroeër vandeesmaand van ’n vermeende ontvoerder weggehardloop en die polisie vra nou die gemeenskap se hulp om die man vas te trek.

Hulle het beeldmateriaal van die verdagte.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê die voorval het op Saterdag 1 September plaasgevind.

Beeldmateriaal van die verdagte wat ’n agtjarige meisie van Goodwood glo probeer ontvoer het. Hier stap hy saam met die meisie en haar ouma.Foto: SAPD

’n Onbekende man, geklee in ’n denimbroek, koningsblou en swart baadjie en swart tekkies, het die meisie en haar ouma genader. Hy het die ouma gevra of sy bereid is dat haar kleinkind aan ’n aktiwiteit by die N1 Stad-winkelsentrum kon deelneem.

Die ouma het ingestem en die drie van hulle het na die winkelsentrum geloop.

Volgens Rwexana het hulle by ’n vulstasie gestop en die verdagte het geld vir die ouma gegee om kos en koeldrank te gaan koop. Sy het ingestem en die meisie by die verdagte gelos. Toe sy terugkeer, was die twee skoonveld.

Die polisie het hulle opgespoor op kringtelevisiebeeldmateriaal waar hulle langs die treinspoor na Century City geloop het. Die meisie het egter van hom weggeruk en gevlug om te gaan hulp soek, sê Rwexana.

Die verdagte het gevlug. Die polisie ondersoek ’n saak van ontvoering.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie by 021 590 1001 of 082 522 1095 kontak.

Die polisie is op soek na hierdie man wat glo ’n agtjarige meisie van Goodwood wou ontvoer. Foto: SAPD

Intussen sê Jessica Shelver, woordvoerder van die departement van onderwys, hulle het Dinsdag met brig. Sonja Harri van die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings vergader.

“Sy sê sake van ontvoering en poging tot ontvoering word as ’n prioriteit deur die polisie ondersoek,” sê Shelver.

Die departement werk ten nouste saam met die polisie en gee vir hulle alle relevante inligting van voorvalle wat by skole aangemeld word. “Ons vra ouers en gemeenskappe om baie bedag te wees en om die polisie te kontak as hulle iets verdag opmerk,” sê Shelver.

Kol. Brenda Muridili, nasionale woordvoerder van die polisie, het Vrydag gesê ouers moet waaksaam wees, al is daar “geen bewyse dat ontvoerings aan die toeneem is nie”.

Dit kom ná ’n vlaag video’s op sosiale media oor beweerde kinderontvoerings.

Die polisie doen ’n beroep op gebruikers van sosiale media om nie video’s oor “ontvoerings” te deel voordat hulle dit geverifieer het nie. Dit saai bloot paniek.

Wenke van die polisie:

  • Moet nooit alleen na en van die skool loop nie. Loop altyd in ’n groep saam met ’n volwassene;
  • Moet nooit in ’n vreemde persoon se voertuig klim nie;
  • Moet nooit geld van ’n vreemdeling aanvaar nie;
  • Meld enige verdagte voertuie en mense aan;
  • Indien ’n kind in ’n situasie is waar ’n onbekende persoon hulle nader, moet hulle probeer weghardloop, skreeu en dit dadelik by ’n volwassene aanmeld.
    Meer oor:  Century City  |  N1 Stad-Winkelsentrum  |  Goodwood  |  Ontvoering  |  Soektog
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.