Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie trek los met rubberkoeëls in Mokopane
Vullis is aan die brand gesteek in Mokopane (Potgietersrus) waar betogers eis dat die burgemeester afgedank moet word. Foto: Korny Dekker
Rook borrel by vullissakke uit in Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo wat deur betogers aan die brand gesteek is.Foto: Korny Dekker
Die strate in Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo is verlate behalwe vir die hope brandende vullis.Foto: Korny Dekker

Die polisie het met rubberkoeëls op betogers in Mokopane (Potgietersrus) geskiet wat swart vullissakke buite die Mogalakwena-munisipaliteit aan die brand steek.

Die situasie in die dorp in Limpopo is van vroegoggend af gespanne met ’n paar honderd betogers wat sonder toestemming van die polisie na die munisipaliteit opgeruk het.

Die meeste winkels, sakeondernemings en skole in die dorp is gesluit uit vrees vir geweld of skade wat aangerig kan word.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die groep betogers het nie toestemming vir die optog nie.

Inwoners word gevra om veral Pretorius- en Retiefstraat en Ruiterweg te vermy.

Die betogers eis die afdanking van Andrina Matsemela, burgemeester van die Mogalakwena-munisipaliteit. Sy word beskuldig van verskeie geldelike ongerymdhede en inwoners kla dat hulle nie basiese dienste kry nie.

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo en ’n jarelange inwoner van Mokopane, sê die betogers het Woensdagoggend vreedsaam voor die munisipaliteit vergader.

“Ek weet nie hoekom die polisie op hulle begin skiet het nie. Hierdie mense is moeg gesukkel sonder water en elektrisiteit en eis dat die burgemeester afgedank word.”

Korny Dekker, DA-raadslid, sê inwoners is keelvol vir verlies wat gely word omdat winkels gesluit moet word wanneer daar betogings is.

Die DA en die VF Plus wil egter ook hê dat Matsemela se kop moet rol.

AfriForum het twee weke gelede ’n strafregtelike klagte by die Mokopane-polisiekantoor teen Matsemela ingedien omdat sy glo meer as ’n R1 miljoen van die munisipaliteit se geld gebruik het om in 2018 vir haar verjaardagpartytjie te betaal.

Intussen is niemand nog in hegtenis geneem vir die moorde op Vaaltyn Kekana (54), ’n ANC-raadslid en voorsitter van die munisipale rekeningkomitee, en Ralph Kanyane (32), die ANC-takvoorsitter in wyk 10 van die Mogalakwena-streek, nie.

Hulle het op 23 Julie omstreeks 14:00 in ’n motor in die dorp gesels toe hulle koelbloedig doodgeskiet is. Die twee mans het skaars twee uur voor dit in ’n raadsvergadering gevra dat ’n forensiese ondersoek gedoen moet word na beweerde tenderbedrog in die munisipaliteit.

Matsemela en Soviet Lekganyane, sekretaris-generaal van die ANC in Limpopo, het die moorde veroordeel. Die ANC het ’n taakspan saamgestel om die moorde te ondersoek.

Meer oor:  Mokopane (Potgietersrus)  |  Onrus  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.