Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie wil weer kundiges aanstel

Die polisie wil 200 oudpolisiemanne weer aanstel in ’n poging om kundiges te werf vir sy spesialiseenhede. Die poste is verlede week geadverteer.

Brig. Vish Naidoo, ’n nasionale polisiewoordvoerder, sê die poste is vir polisiespesialiste. Hulle sal onder meer in die eenhede teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe en openbare orde asook in die nuwe moord-en-roof-eenheid en die eenheid teen taxigeweld ontplooi word.

“Ons nooi opgeleide en bekwame polisiebeamptes van enige range uit om aansoek te doen,” sê hy.

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het einde Mei aangekondig die polisie gaan weer gespesialiseerde polisie-eenhede gebruik om prioriteitsmisdade te ondersoek.

Jackie Selebi, destydse polisiekommissaris, het die eenhede in 2001 gesluit – wat volgens kritici bygedra het tot ’n toename in geweldsmisdaad.

Dr. Johan Burger, polisiekenner en navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

Dr. Johan Burger, polisiekenner en navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê die plan om oudpolisielede terug te werf, is welkom.

“Dit dui op ’n erkenning van die polisie dat hulle kundigheid verloor het en nou probeer om dit terug te kry.

“Die realiteit is dat dit maklik is om af te breek, maar moeiliker om op te bou. Die eenhede gaan nie oornag volwaardig funksioneer om die misdaad­krisis te takel nie.”

Hy sê sedert die eenhede in 2001 gesluit is, het die invloei van nuwe speurders opgedroog omdat daar nie ervare speurders was om jong en onervare speurders op te lei nie.

“Baie polisiebeamptes het die polisie verlaat weens swak werksomstandighede en omdat mense in senior poste aangestel is wat nie daar hoort nie.

“Hulle sal nie terugkom as hulle weer onder sulke mense se bevel moet werk nie,” sê Burger.

“Ek is nie hoopvol dat ervare polisiebeamptes in groot getalle sal terugkeer nie. Ek glo wel daar is polisiebeamptes wat dit nie daar buite maak nie wat sal belangstel om terug te keer as die salarisse reg is.”

Dr. Guy Lamb, ’n polisiekenner aan die Universiteit Stellenbosch, sê Selebi se ontbinding van dié eenhede het speurders se spesialis-ondersoekvermoë vernietig.

Hy sê die polisie moet onmiddellik ’n vuurwapeneenheid stig wat daarin spesialiseer om vuurwapens op te spoor wat in misdade gebruik word.

Meer oor:  Johan Burger  |  Aanstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.