Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisiehoof gryp self in ná Madonsela-dreigement
Adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer. Foto: Mary-Ann Palmer

Die waarnemende nasionale polisiekommissaris se kantoor kyk self na die bewerings dat adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, se lewe dalk in gevaar is.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het aan Netwerk24 gesê hulle was self uit die veld geslaan toe hulle Sunday Times Sondag optel.

Madonsela het aan dié koerant gesê het ’n fluitjieblaser het haar gewaarsku oor ’n Kaapse bendebaas wat R740 000 aangebied is om haar te vermoor. Na berig word, moes dit lyk soos ’n motorongeluk.

Madonsela het haar ontevredenheid uitgespreek oor ’n lid van die Wes-Kaapse misdaadintelligensie-eenheid wat glo die dreigement sonder die nodige erns hanteer het en eerder die geloofwaardigheid van die fluitjieblaser bevraagteken het.

Mulaudzi sê lt.genl. Khomotso K.J. Phahlane, waarnemende polisiekommissaris, het besluit om self in te gryp na aanleiding van die storie.

“Wanneer hy met al die rolspelers, insluitend die kantoor van die openbare beskermer, gepraat het, sal ons kan vasstel wat gedoen moet word,” sê Mulaudzi.

Hy sê hulle was “geskok” toe hulle die storie lees.

“As mense klagtes het, moet hulle direk na ons toe kom (nie net na die media nie),” sê Mulaudzi.

“Nou lyk dit of ons weier om ’n diens vir haar te lewer en dit lyk glad nie goed nie.

Daar is volgens Mulaudzi nog geen amptelike klagte ingedien nie.

Zakhele Mbhele, die DA se woordvoerder oor polisie, het Phahlane se besluit verwelkom om “ernstig aandag” te gee aan die dreigemente teen Madonsela.

Mbhele het gevra dat die verdere ondersoek gepaard moet gaan met bykomende sekuriteit van die eenheid vir die beskerming van belangrike persone om haar veilig te hou.

Indien daar nie beliste aksie geneem word deur die kommissaris en die minister van polisie nie, sal die DA ’n beroep op pres. Jacob Zuma doen om hulpbronne beskikbaar te maak soos wat hy dit al vir homself beskikbaar gemaak het.

Mbhele sê die BBP-beskermingseenheid het ’n begroting van meer as R1 miljard, wat met ’n 14%-verhoging veel hoër is as inflasie.

“Dit kom voor asof daar ’n politieke probleem is om seker te maak dat die eenheid gebruik word om mense wat dit die meeste kort, te beskerm,” sê Mbhele.

________________________________________

Meer oor:  Thuli Madonsela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.