Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisielede afgedank ná vals beskuldiging oor k-woord
Chris Mphana in 2020 in die hof. Foto: Susan Cilliers
Sedisa Tekoe in Oktober 2020 tydens sy vonnisoplegging. Foto: Susan Cilliers

Twee polisielede in Klerksdorp, Noordwes, wat hul afdelingshoof valslik van rassisme beskuldig het, is Maandag albei oneervol ontslaan.

Streeklanddros Charlotte Oosthuizen-Senekal het Sedisa Tikoe (53) en Chris Mphana (54) in Junie 2020 in die landdroshof in Stilfontein skuldig bevind aan crimen injuria, meineed en dwarsboming van die gereg nadat hulle lt.kol. Annemarie Oosthuizen in 2017 valslik beskuldig het dat sy hulle met die k-woord geskel het.

Renate Barnard, sektorkoördineerder van die openbare sektor by Solidariteit, het hul ontslag verwelkom.

“Dit is ’n stap in die regte rigting en wys strafregtelike oortredings sal nie in die SAPD geduld word nie. Die boodskap word nou hard en duidelik uitgedra: Moenie valse beskuldigings van rassisme maak nie, moenie valse beëdigde verklarings oor rassisme aflê nie en moet jouself nie tot geweld en dreigemente in die werkplek wend nie.”

Solidariteit het Oosthuizen bygestaan in haar hofsaak teen Mphana en Tikoe. Sy was tydens die voorval hoof van die polisie se afdeling vir mensehulpbronne in Klerksdorp.

Tikoe is in Oktober agt jaar tronkstraf opgelê en Mphana sewe jaar, maar die vonnisse is in die geheel vir vyf jaar opgeskort. Net Tikoe is skuldig bevind aan ’n klag van aanranding omdat Oosthuizen fisiek bedreig gevoel het toe hy sy vinger vir haar geswaai en gesê het hy sal haar opf*k.

Renate Barnard en lt.kol. Annemarie Oosthuizen tydens die polisielede se verhoor in Stilfontein. Foto: Susan Cilliers
Renate Barnard van Solidariteit en lt.kol. Annemarie Oosthuizen vroeër in die streekhof in Stilfontein. Foto: Susan Cilliers

Oosthuizen-Senekal het Tikoe en Mphana, wat steeds skuld ontken, verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding geweier. Hulle is nog besig om by die appèlhof in Bloemfontein verlof tot appèl te probeer kry.

Kol. Adèle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die twee adjudant-offisiere het Maandag hul briewe van die provinsiale polisiekommissaris gekry dat hulle oneervol ontslaan word. Hulle is op 30 April vanjaar in ’n interne tugverhoor skuldig bevind na aanleiding van hul skuldigbevinding en vonnis in die hof.

“Die finale dokumentasie moes eers afgehandel word voordat hulle hul afdankingsbriewe kon kry,” verduidelik Myburgh. Sy het vroeër gesê die polisie moes eers wag dat hulle gevonnis word voordat tugoptrede kon volg.

Oosthuizen wou nie Maandag kommentaar lewer nie.

Sy is in 2018 tydens haar tugverhoor (weens die k-woord-aantygings) onskuldig bevind. Dít nadat Elizabeth Sechele, ’n kollega, getuig het hoe sy gehoor het hoe Mphana en Tikoe saamsweer om Oosthuizen valslik te beskuldig.

Sechele was ook ’n sleutelgetuie in Mphana en Tikoe se hofsaak.

Barnard het die polisie gekritiseer omdat hulle in vier jaar glo nooit teen Mphana en Tikoe opgetree het nadat hulle Oosthuizen valslik beskuldig het nie.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê daar was wel in 2017 ’n tugproses teen die lede, maar hy het nie besonderhede daaroor verskaf nie.

Volgens Barnard is dit vreemd dat Oosthuizen nooit geroep is om tydens dié tugproses te getuig nie.

Oosthuizen is ná die valse bewerings uit haar pos na die eenheid vir sigbare polisiëring in Klerksdorp verplaas. Sy werk steeds daar. Tikoe en Mphana, daarenteen, het (tot nou) in hul poste aangebly.

Oosthuizen-Senekal het in haar destydse vonnisuitspraak gesê: “Dis kommerwekkend dat hulle Oosthuizen, wat haar werk met integriteit doen, vals beskuldig het net omdat hulle gegrief was omdat sy hul bevelvoerder was. Hulle het die raskaart gespeel wetend dat mense wat van rassisme beskuldig word, gewantrou en verwerp word en selfs hul werk kan verloor. Hul optrede was beplan en is met presisie uitgevoer. Mense wat vals aantygings van rassisme teen ander maak, moet net so swaar gestraf word as diegene wat rassisties optree.”

Oosthuizen-Senekal het beklemtoon dat die gebeure ernstige langtermyngevolge gehad en emosionele letsels by Oosthuizen gelaat het.

Sy het tydens die verhoor getuig sy het in die 30 jaar wat sy in die polisie werk, altyd probeer om die beste te wees in wat sy doen en talle pryse ontvang. “Die aantygings teen my het dit vernietig. Ek is as rassis gebrandmerk. Die hele saak is emosioneel uitmergelend en nimmereindigend. Dit laat ’n permanente merk.”

Só het alles begin

Lt.kol. Annemarie Oosthuizen het Sedisa Tikoe op 27 Februarie 2017 gevra om ’n verlofvorm te teken omdat hy glo op 24 Februarie sonder toestemming by die werk weggebly het. Hy het glo geweier.

Tikoe het daarna gedreig hy sal haar op “opf*k” en Chris Mphana dat hy “haar sal vernietig en van haar ontslae sal raak”.

Die twee het die volgende dag (valse) strafregtelike klagte teen Oosthuizen ingedien dat sy hulle die k-woord toegesnou het, maar van dié saak het niks gekom nie.

Meer oor:  K-Woord  |  Chris Mphana  |  Sedisa Tikoe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.