Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisieman begrawe: ‘Kan ek nog een drukkie kry, Dadda?’
Jean-Pierre Lewis (22) word deur sy vriendin, Zandilie van Staden, vertroos tydens die huldeblyk wat sy suster, Jeandre, oor hul pa, Johan, gelewer het. Foto’s: Felix Dlangamandla

Hy was ’n toegewyde polisieman wat ’n behoefte gehad het aan Christelike verdieping en ’n bekende onder die gemeenskap van Nigel.

Vir sy twee kinders was ao. Johan Lewis (48) hul geliefde “Dadda”.

Die trane het Woensdag vrylik gevloei toe die polisie ’n amptelike begrafnis vir Lewis vanuit die NG kerk Suid gehou het.

Jeandre Lewis (18) lewer ’n huldeblyk aan haar pa, wat sy as haar “fishing-buddy” bestempel het.

Lewis se lyk is Maandagaand 13 Januarie in ’n plaasdam by Nigel gekry.

Jan de Villiers (21) is kort hierna aangekeer en het op ’n aanklag van moord in die landdroshof op Nigel verskyn. Hy verskyn weer op 31 Januarie in die hof.

Polisielede dra ao. Johan Lewis se kis na die lykswa. Familielede loop agter die draers.

Lewis is in die Vlakfontein-begraafplaas ter ruste gelê, ’n dag ná die verjaardag van sy vrou, Jenny-Lynne (46), en die egpaar se 25ste huweliksherdenking.

Die egpaar se dogter, Jeandre (18), het op die diens ’n roerende huldeblyk aan haar pa gelewer wat haar gereeld saamgeneem het viswaters toe.

Lewis was ’n hengelaar van formaat.

Die kis van ao. Johan Lewis in die NG kerk Suid op Nigel.

“Jammer ek dra Dadda se T-hemde, maar Dadda weet ek doen dit altyd. My ‘fishing-buddy’, my ou wollekoppie, ek moes net Sondagaand daai laaste koppie koffie maak waarvoor Dadda gevra het.”

Jeandre het verder in haar huldeblyk belowe sy en haar broer, Jean-Pierre (22), ’n polisiekonstabel, sal hul ma veilig hou.

“Ai, Dadda. As ek maar net ’n laaste drukkie kon kry . . . Dankie vir alles, Dadda. Dadda het nooit baie gehad nie, maar was bereidwillig om te gee.”

’n Suid-Afrikaanse vlag word oor Lewis se kis gedrapeer.

Jeandre het ook gesê sy het baie by haar pa geleer. “Ek het by Dadda geleer om nooit bang te wees nie en om altyd pret te hê.”

Lewis, wat meer as 30 jaar lank in die polisie was, was aan die Springs-polisiekantoor verbonde.

Lt.kol. Pieter Erasmus het namens die polisie ’n huldeblyk aan Lewis gelewer. Hy het hom as ’n toegewyde polisieman bestempel.

Ao. Lewis se vrou, Jenny-Lynne, en dogter, Jeandre (in die rooi rokke), word buite die kerk omhels.
Ao. Johan Lewis se lyk is Maandag 13 Januarie in ’n plaasdam in Nigel gekry. Foto: Facebook

Erasmus het ’n staaltjie gedeel oor Lewis se liefde vir hengel. “Ek onthou in 1997 om 10:00 ontvang ek ’n oproep in my kantoor. Die klaer sê een van my polisievoertuie staan by die Nigeldam met twee visstokke op die dak. Wie kry ons daar? Vir Jerry (soos Lewis bekend was).

“Hy het my vertel hy wil ’n boek skryf oor sy lewe. Die aand toe ons die nuus aan Jenny-Lynne by die huis gaan oordra, was die eerste ding wat sy seun gesê het hy gaan nou die boek klaar skryf.”

Dr. Pieter Kruger, wat die diens waargeneem het, het die familie getroos met die woorde om naby God te leef, sal vreugde bring. Kruger het gesê hy het Lewis geken as ’n man wat ’n behoefte gehad het vir Christelike verdieping. Lewis was voornemens om vanjaar ’n kursus by ’n Bybelskool te doen. “Mag jul pa se voorbeeld in julle hart gekoester word en sy nalatenskap julle laat koers hou,” het hy aan Jeandre en Jean-Pierre gesê.

Meer oor:  Moord  |  Begrafnis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.