Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisieman wou met koerant praat voor selfdood
Lieb en Linda Liebenberg. Foto: Linda Liebenberg/Facebook

Enkele ure voordat ’n Bloemfonteinse polisieman hom op die pad na Jagersfontein om die lewe gebring het, het hy Volksblad twee keer gebel en gesê hy wil oor groot korrupsie praat.

Ao. Lieb Liebenberg (57), ’n polisiebeampte by misdaadintelligensie in Bloemfontein, is Saterdag omstreeks 10:00 dood nadat hy homself in sy werksmotor om die lewe gebring het.

Hy was die afgelope sowat 40 jaar ’n polisieman.

Enkele ure voor dit het hy twee verslaggewers van Volksblad afsonderlik oor beweerde groot korrupsie gebel. Een oproep was Saterdag om 07:38. Hy wou weet waar kan hy ’n koevert met die inligting los.

Hy het nie weer gebel nie en Volksblad is omstreeks 12:34 oor sy dood ingelig.

Linda Liebenberg (53), sy vrou met wie hy 35 jaar getroud was, sê sy is stukkend ná sy dood.

Enkele ure voor dit het hy twee verslaggewers van Volksblad afsonderlik oor beweerde groot korrupsie gebel.

“Hy het nog Saterdagoggend voordat hy uit die huis is, sy arms styf om my lyf gegooi, my ’n klapsoen gegee en sy liefde aan my verklaar. Min het ek geweet dat dit die laaste keer sou wees dat ek my man lewend sou sien,” sê sy.

Volgens Linda het hy niks gesê nie, net dat hy by Macufe gaan werk.

Sy sê in terugskouing was dit vreemd hoe hy haar gegroet het toe hy die huis verlaat het.

“Hy het my anders as ander tye gegroet. Waar hy my gewoonlik net soen, het hy my omhels en hard gesoen en gesê hy is lief vir my. Dit was seker sy manier om afskeid te neem.”

Linda sê hy sou alles vir haar, hul kinders en kleinkinders doen.

“Hy was ’n wonderlike man, pa en oupa wat homself te kort sou doen sodat sy kinders in oorvloed kon hê.”

Sy sê sy gaan alles van hom mis, veral wanneer hy in die aande vir haar sou sê: “Pappa is baie lief vir jou.”

“Ek is stukkend. Dit was so onverwags. Hoe moes ek ooit weet dat toe jy my vanoggend gegroet het ek jou nooit weer sou sien nie? Hoe gaan ek aangaan sonder jou? Jy was my hele lewe. Rus in vrede. Ek sal jou altyd liefhê.”

Stefan, sy seun, skryf op Facebook hy weet nou wat ’n stukkende hart is.

“Ai Pa. Vanoggend moes net ’n gewone oggend soos altyd gewees het met ’n vinnige groet toe Pa ry, maar min het ek geweet. 

Volksblad het geen koevert met inligting ontvang nie.

“Vanaand weet ek hoe voel dit om met ’n stukkende hart te sit. Vir wie gaan ek nou ’n vinnige grappie op WhatsApp stuur of op ’n Saterdag op die skeidsregters skree as die Sharks verloor?

“Daar is nog baie vrae. Ek sit met ’n leë hart vanaand. Ek hoop Pa se seer is nou weg.

“Pa sal altyd in my hart bly.”

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale woordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek is begin en geen misdaad word vermoed nie.

Benewens sy vrou en seun word hy ook oorleef deur twee dogters, Marelize Lombaard en Linette Claassens, asook twee kleinkinders en sy sibbe, Janie Broekman, Gerda Pretorius, Trudie Rautenbach en Henk Liebenberg.

Die begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie.

Volksblad het geen koevert met inligting ontvang nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Selfdood  |  Polisie  |  Polisieman  |  Koerant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.