Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisiemanne besorg sakeman se beursie terug

Twee polisiemanne wat ’n reisende sakeman se verlore beursie in die vroeë oggendure by sy blyplek in Gordonsbaai aan hom terugbesorg het, maak opslae.

Stuart Wade, ’n Johannesburgse sakeman, het op die Facebook-groep ImStaying oor die polisiemanne – konst. Jacquinn Bernard Lewis en konst. Carl-Michael Solomons – geskryf en ’n foto van hulle gedeel. Meer as 2 000 mense het van die inskrywing gehou.

Volgens Wade het hy op 10 Februarie omstreeks 22:00 in Kaapstad geland. Hy was op pad na Gordonsbaai waar sy gesin ’n huis het. Hy het gestop om melk by ’n Engen-vulstasie op die N2 te koop.

“Ek was moeg ná ’n lang dag en het vinnig aan die slaap geraak, so 23:00 se kant,” sê hy. Net ná middernag het hy ’n oproep gekry van ’n polisiebeampte wat gesê het hulle het sy beursie wat hy by die vulstasie vergeet het. Hulle het toe afgespreek om hom die volgende aand te ontmoet.

Net ná 01:00 het Wade weer ’n oproep gekry. Volgens hom was polisielede verbonde aan die Wes-Kaapse blitspatrollie naby Gordonsbaai en het sy beursie by die huis kom afgee. Wade het eers later besef dat hy die dag sonder sy beursie sou sukkel en geen transaksies sou kon doen nie.

Konst. Jacquinn Bernard Lewis (links) en konst. Carl-Michael Solomons. Foto: Facebook/Stuart Wade-#ImStaying Movement

“Danksy hulle het ek geen ongerief ondervind nie.”

Hy het op die Facebook-groep ImStaying geskryf die klerk by die vulstasie het sy beursie aan die bestuurder gegee en dié het weer die beursie aan die polisie oorhandig.

“Eenuur arriveer konstabel Solomons en konstabel Lewis van die Wes-Kaapse blitspatrollie by my voordeur om dit – die beursie – af te lewer met ’n groot, vriendelike Suid-Afrikaanse glimlag. Deur die stelle hande hanteer en moeite om my op te spoor. Watter legendes,” lui die inskrywing.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Wade se inskrywing op sy Facebookblad gedeel waar die polisiebeamptes lof toegeswaai is vir hul optrede.

*Die polisie is om kommentaar genader. Sodra dit ontvang word, sal dit bygewerk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.