
Rita Erasmus, vriendin van Lizette en Hettie Deacon word ondersteun deur Hettie se kleinseuns, Xavier (wit hemp) en Xante Deacon by die roudiens vir die Deacons. Foto DEAAN VIVIER
Die bejaarde Hettie Deacon (79) het Donderdag letterlik tot die dood toe geveg om haar dogter, Lizette (55), ’n sakevrou van Polokwane, te beskerm toe hulle uit hul huis ontvoer en vermoor is.
So het Quinton Deacon, Hettie se seun en Lizette se broer, Dinsdag in die NG kerk Noord in Polokwane gesê waar ’n roudiens vir die twee geliefde inwoners gehou is.
“Ek sou vir my ma gesê het, jy het die battle verloor, maar die oorlog gewen. Ma, dis nou tyd vir jou om te rus,” het hy met trane in sy oë gesê waar hy voor ’n bos pienk lelies gestaan het.
Hy het sy ma as ’n vegter beskryf en gesê sy is jare gelede deur rowers aangehou in die Ackermans-winkel in Klerksdorp waar sy ’n bestuurder was. “Ek dink my ma se fighting spirit het die rowers so moeg gemaak dat hulle haar toe in die kluis toegemaak het. Sy was die onselfsugtigste mens wat daar was.”

Christo van der Merwe, vriend van Lizette Deacon wat onraad vermoed het op die dag wat sy vermoor, Dinsdag by die roudiens vir die vermoorde Ocean Basket-eienares, en haar ma, Hettie, in Polokwane. Foto DEAAN VIVIER
Quinton, wat ’n restaurant in die Kaap besit, het gesê sy suster was “ ’n reus wat gek was oor die lewe. Sy het voluit gelewe”.
“Die moord op hulle is sinneloos en so onnodig. Ek eer hulle en weet hulle sou sê die bose het nie die goeie oorwin nie. Ons moet aanhou om die regte goed te doen en die lig sal die donker verdryf.”
Lizette en Hettie is Donderdag vroegaand in hul meenthuis in die Alpetra-kompleks in Welgelegen oorval, met messe gesteek en in die bagasieruim van Lizette se wit Honda-luikrugmotor geboender. Hul lyke is ure later agterin die voertuig sowat 25 km buite Polokwane gevind.
Lizette was die eienaar van die twee takke van die Ocean Basket-restaurant in onderskeidelik die Mall of the North en die Savannah Mall in Polokwane. Hettie het haar met die bestuurspligte gehelp.
Ds. Dopper Erasmus, ’n jare lange vriend van hulle, het Dinsdag gesê die moorde op Lizette en Hettie was onmenslik wreed.
“Wat moes in daardie laaste ure deur hul gedagtes gegaan het?
“Ek het Donderdagoggend nog saam met Lizette koffie gedrink en haar ’n drukkie gegee, min wetende dat dit die laaste keer is. Skielik is hulle nie meer hier nie. Alles is so onwerklik.”
Hy het gesê wanneer ’n tragedie soos hierdie ’n gemeenskap tref, is daar baie vrae in mense se harte. “As God ’n God van liefde is wat saam met sy kinders is, waar was God toe hierdie moorde gepleeg is? Hoekom het hy dit nie gekeer nie? Dit is eeue oue vrae waarmee selfs Dawid en Job in die Bybel geworstel het.
“Ons leef in ’n siek wêreld waar vreesaanjaende goed met ons gebeur. As daar meer liefde in die wêreld was, het Hettie en Zettie vandag nog geleef.”

Thabo Mokone, LUR van ekonomiese ontwikkeling, by die roudiens vir Lizette Deacon en haar ma, Hettie, in Polokwane. Foto DEAAN VIVIER
Hy het verder gesê die moorde op Lizette en Hettie veroorsaak “ ’n draaipunt in hierdie hartseer verhaal van ons land”.
“As almal God se liefde uitgeleef het, was hierdie land ’n beter land.”
Thabo Mokone, LUR vir ekonomiese ontwikkeling in Limpopo, het namens die provinsiale regering die diens bygewoon.
Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het voor die roudiens saam met Quinton en sy vrou, Christa, die eerste hofverskyning van die twee vermeende moordenaars in die landdroshof in Polokwane bygewoon.
Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30) het vlugtig voor landdros Janine Ungerer verskyn.
Hulle het geen emosie getoon nie en Amid beweer hy is deur die polisie aangerand. Die saak is vir verdere ondersoek tot 25 September uitgestel.
Sowat 100 mense het buite die hof saamgedrom waar ’n houtgalg met ’n tou daaraan naby bakkies met “genoeg is te veel”-plakkate staangemaak is.

Quinton Deacon, broer van Lizette Deacon Dinsdag by die roudiens. Foto DEAAN VIVIER

Sophie Mmako, wat by die Deacons gewerk het hul roudiens Dinsdag. Foto DEAAN VIVIER

Lizette Deacon (55)

Hettie Deacon (79)