Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Poppie’ se pyn laat haar elke dag huil

Die aktrise wat die naamrol in die nuwe fliek Poppie Nongena vertolk, kan nie net Afrikaans praat nie, maar ook agt ander tale.

Die aktrise Clementine Mosimane vertolk die rol van Poppie Nongena. Sy sê sy het elke dag tydens verfilming gehuil oor wat Nongena destyds moes deurmaak. Foto: Deon Raath

“My ouma was jare gelede ’n huiswerker en haar spreektaal was Afrikaans, en so ook talle ander huiswerkers van destyds en steeds vandag,” sê Clementine Mosimane.

“Mense moet besef dat jy jou eie menswees moes aanpas. Jy het jou taal opgegee, want jy het Afrikaanse kinders versorg en vir hulle stories gelees en in ’n Afrikaanse huis gebly. Dan word dit ook jou taal.

“Sy moet die miesies se kinders se hare kam en vir hulle slaaptydstories lees (in Afrikaans) terwyl sy wonder hoe dit met haar eie kinders gaan, wat in ’n ander provinsie by mense bly wat nie werk het nie,” sê Mosimane.

Weet jy wat in jou huiswerker se lewe aangaan?

Die fliek deur Christiaan Olwagen is gegrond op Elsa Joubert se boek Die swerfjare van Poppie Nongena en begin op 31 Januarie wys. Dit gaan oor Nongena se stryd om wettig in die Kaap te bly waar sy grootgeword het en vir haar man en kinders sorg.

Dit was ’n tyd van dompasse, inhegtenisnemings, boetes en gedwonge skeiding tussen gesinslede wat nie by mekaar kon woon nie.

Vir Nongena was dit onaanvaarbaar, want sy wou haar kinders by haar hê en self grootmaak. Maar dit was nie so eenvoudig nie, want sy is beskou as ’n onwettige inwoner van haar eie land.

“Sy is nie erken as mens en ma nie, en dis vandag steeds relevant. Deesdae woon die ‘Poppies’ in blikhuisies en maak ander se kinders in ryk voorstede groot. En baie van die ‘miesiese’ is nou swart,” sê Mosimane.

Die aktrise Clementine Mosimane as Poppie Nongena in die gelyknamige fliek. Foto: Verskaf

“Weet jy wat in jou huiswerker se lewe aangaan? Weet jy wat sy alles moet trotseer om elke dag by die werk uit te kom? Maak sy ook jou kinders groot en nie haar eie nie? En dít vir ’n minimum loon of minder.”

Haar ouma se ervaring was die dryfveer wanneer sy as Poppie regtig na daardie donker plekke toe moes gaan.

“Ek glo nie daarin om my werk huis toe te vat nie. Maar dit ruk ’n mens. Daar is ’n toneel in die fliek waar Poppie haar kinders moet groet. Hulle moet dan in die Transkei gaan bly by familie wat geen inkomste verdien nie, en Poppie moet in die Kaap agterbly en probeer om alles bymekaar te hou. Dit het my ver teruggevat,” sê Mosimane.

Sy leef nes Nongena destyds na aan God. “Toe Poppie se kinders van haar af weggeskeur is, het ek gedink aan God en hoe Hy moes voel om sy Seun so te sien ly terwyl Hy aan die kruis gehang het . . . en toe verstaan ek. Toe besef ek hoe dit Poppie uitmekaar moes ruk.”

Sy sê in die drie en ’n halwe maande terwyl hulle verfilm het, het sy elke dag gehuil. Sy was destyds in st. 5 (gr. 7) toe die onluste in Soweto, waar sy grootgeword het en steeds woon, uitgebreek het. Sy het veral tydens die verfilming van daardie tonele baie goed herleef.

“Een van die grootste redes hoekom ons vandag so baie probleme in ons land het, is omdat ons sit met kinders wat nie deur hul eie ouers grootgemaak is nie, swart kinders wat nooit daardie liefde en omgee ervaar het nie. Dis mos nie reg nie?

“Ek hoop regtig dat mense die fliek sal gaan kyk en iets daaruit sal leer, sodat ons weer met mekaar kan praat. Vroue kan saamstaan en met deernis vir almal leef.”

Afrikaans as huistaal

Volgens die 2011-sensus is Afrikaans 602 166 swart mense se huistaal. 58 700 mense van Indiese of Asiatiese afkoms het Afrikaans ook as hul huistaal aangegee. Die meeste Afrikaanssprekendes, naamlik 3 442 164, is bruin, terwyl 2 710 461 wit is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.