Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Porsche kraai koning op trekkerfees
Zeeman Botha (72) op sy Porsche-trekker wat hy self gerestoureer het. Die nuwe naam vir die trekker heet nou Allgaier Diesel A133.Foto: André Damons

’n Porsche van ’n ander aard, ’n trekker van byna ’n eeu en ’n byl met meer as een doel.

Dit was van die goed wat Saterdag te sien was by die Bloem-familie-trekkerfees in Quaggafontein net buite Bloemfontein.

Zeeman Botha (72) van Brandfort sit breëbors op sy bloedrooi Porsche.

Dié trekker, wat deesdae as die Allgaier Diesel A133 bekendstaan, is sekerlik die skaarsste trekker by die fees.

“Ek het die trekker by ’n melkboer onder bome op sy plaas gekry,” sê hy.

Die Porsche-trekker voordat hy gerestoureer is. Zeeman Botha het die trekker op ’n melkboer se plaas onder bome gekry.Foto: Verskaf

“Dit het my ’n klompie jare gevat om dit te restoureer omdat ek tussenin met ander goed ook besig is, maar vandag is ek bly dat ek die eerste keer hier kan wees.”

Botha sê Porsche het tussen 1954 en 1963 trekkers vervaardig, maar toe opgehou.

“Hoewel dit ’n Porsche is, is hy nie net mooi nie, maar kan hy nou wérk ook.”

Nie ver van hom nie staan Dries Labuschagne by sy 1922 Fordson Detroit – die oudste by die fees.

Amper ’n eeu oud, is die trekker so mooi gerestoureer jy sal dink hy is splinternuut.

“Ek het maar met dié trekker grootgeword,” sê Labuschagne.

Dis lekker by die Bloemfontein-familie-trekkerfees. Don Scheepers (60) van Roodepoort gee Hanré Badenhorst (2) ’n saamrygeleentheid op die rooi Massey-Harris-trekker. Scheepers het spesiaal Bloemfontein toe gekom vir die fees. Saam met hulle is Scheepers se hond, Ounooi. Foto: André Damons

Hy het ook trekkers van 1923, 1927 en 1951.

“Dis goed om dit te bewaar.”

Rudie Herbst, feesorganiseerder, sê dit is onder meer ook die hoofdoel van die fees. Dit is die sesde keer wat die fees aangebied word.

“Buiten dat ons as Sentraal Vrystaat Veteraneklub die ou trekkers wil bewaar en nuut maak, gaan dit vir ons ook oor nostalgie,” sê hy.

“Die ouer mense wil die nostalgie hê terwyl die jeug sommer hier kan leer. Ons ‘speel’ vandag op ’n plaas. So hulle kan leer waar melk vandaan kom, hoe om botter te maak en baie pret hê.”

Buiten die trekkers en plaasaktiwiteite, kan feesgangers ook hul vaardigheid toets met bylgooi.

Phil Sutherland van Bloemfontein gooi sy byl en dis kolskoot.

Lekker op die bloedrooi Massey-Harris. Don Scheepers (60) van Roodepoort gee klein Hanré Badenhorst (2) ’n saamry geleentheid. Scheepers se hond, Ounooi, ry ewe lekker saam. Foto: André Damons

Hy trek die byl uit die teiken, en begin aan die handvatsel suig.

“Dis hoe die Indiane dit destyds gedoen het,” sê hy. Die rook bol by die byl se kop uit.

“Die byl is vierledig: jy kan hom gebruik as ’n mes, jy kan hom rook, jy kan hout kap en dan ook moor . . .”

Hy het self sy byle gemaak as deel van die Bloem Blades-klub.

Agter hom swoeg en sweet Peter Wille (14), ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Sentraal, en Louis van Wyk.

Van Wyk trek sy tong soos hy konsentreer om te gooi.

“Nee, dis baie moeilik,” sê hy.

Wille stem saam.

“Die tegniek is ’n uitdaging, maar dis nogtans lekker.”

Zeeman Botha (72) op die skaarsste trekker by die fees. Dié Porsche-trekker was ’n gewilde uitstalling tydens die Bloem-familie-trekkerfees.Foto: André Damons
Rudie Herbst, feesorganiseerder, sê die fees is daar om ouer mense ’n bietjie nostalgies te maak.Foto: André Damons
Trekkers van alle kleure is by die Bloem-familie-trekkerfees uitgestal. Foto: André Damons
Sowat 20 00 mense het Saterdag die trekkerfees buite Bloemfontein bygewoon. Foto: André Damons
Die oudste trekker op die fees is 'n 1922-Fordson Detroit. Foto: André Damons
Vinkel en koljander het die feesgangers omtrent deurmekaar gemaak. Hier staan Sias Calitz (links) en sy tweelingbroer, Jurg, by ’n Massey-Harris trekker. Foto: André Damons
Nes ’n wafferse Indiaan gooi Phil Sutherland sy byl kolskoot.Foto: André Damons
Buiten ’n byl, kan Phil Sutherland ook sy byl rook.Foto: André Damons
Vir Louis van Wyk is bylgooi beslis nie tong in die kies nie. Foto: André Damons
Phil Sutherland steek sy bylpyp op vir ’n paar trekke.Foto: André Damons

Meer oor:  Bloemfontein  |  Fees  |  Porsche
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.