Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Postbank gereed om staatsbank te word

Die Poskantoor se Postbank sê hy het die “begeerte en vermoë” om ’n volwaardige staatsbank te word.

Dié boodskap het Hannes van der Merwe, waarnemende besturende direkteur van Postbank, Woensdag aan LP’s oorgedra. Van der Merwe en die res van die staatsbeheerde instelling se topbestuurders het die Nasionale Raad van Provinsies se komitee oor openbare ondernemings en kommunikasie oor die finansiële stand van Postbank toegespreek.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Februarie in sy staatsrede gesê het dat sy regering voortgaan met die stigting van ’n staatsbank “as deel van ons poging om toegang tot finansiële dienste na alle Suid-Afrikaners uit te brei.”

Die ANC het by sy laaste nasionale beleidskonferensie in 2017 besluit dat ’n staatsbank so gou moontlik gestig moet word.

Van der Merwe het Woensdag gesê die Postbank se vermoë om deposito’s te neem en deelname in die nasionale betalingstelsel is ’n “kragtige” vermoë vir die regering.

“Dit kan beter benut word om in sosio-ekonomiese ontwikkelingsbates van nasionale belang te belê.

“Die gebruik daarvan – met sy kern handelsbank-infrastruktuur en reikwydte deur die Poskantoor-taknetwerk – tot die voordeel van wyer ontwikkelingsdoelwitte van die toekomstige staatsbank, sal die las verlaag vir verdere kapitaalwerwingsvereistes vir ’n nuwe staatsbank in ’n fiskus wat reeds deur hoë skuldvlakke beperk word.

“Die Postbank se doelwit is om sy momentum voort te sit met sy stelselmatige digitale beleggingsplan. Dit sal hom in staat stel om sy bedrywighede te verbreed veral in gebiede waar die bank beter in staat is om die regering in sy ontwikkelingsagenda te ondersteun,” het Van der Merwe bygevoeg.

LP’s het ook gehoor dat die Postbank reeds in Junie 2017 aansoek gedoen het vir ’n banklisensie wat deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank oorweeg sal word sodra die Postbank sy bankbeheerstrukture voltooi én wysigings aan die Postbank-wet en ander vereistes afgehandel is.

Dié lisensie sal na verwagting ’n paar geleenthede vir die bank ontsluit om doeltreffend in die bedryf te kan meeding met volledige bankdienste, terwyl dit ook sy kerndoelwit sal nastreef in die lewer van bankdienste aan die regering omdat dit reeds in staatsbesit is.

Die komitee het ook gehoor hoe die Postbank tans totale bates van R11,1 miljard het. In Julie was sy netto wins ná belasting R213 miljoen.

Van der Merwe het verder gesê die Postbank het teen Julie vanjaar ook reeds 3,3 miljoen bankrekeninge geopen vir begunstigdes van die regering se R350-verligtingstoelae vir werkloses. Sowat R2,6 miljard is tot dusver in 4 miljoen transaksies deur die Postbank aan dié begunstigdes uitbetaal.

Die Postbank het verder in ’n voorlegging aan die komitee gesê die bank se finansiële posisie weens kapasiteit- en moderniseringsplanne, asook die beskeie ekonomiese herstel, na verwagting in die volgende twee jaar sal afneem.

Verder het die impak van die Covid-19-pandemie ook daartoe gelei dat die Postbank se risiko-profiel regoor alle risiko-tipes versleg het omdat kliënte “hul werk verloor en nie geld het om in ons produkte te spaar of te belê nie”.

Meer oor:  Hannes Van Der Merwe  |  Poskantoor  |  Staatsbank  |  Postbank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.