Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Potch groet bekroonde prof. Saayman

Die bekroonde navorser en ’n direksielid van Aardklop, prof. Melville Saayman (53), se dood het Donderdag skokgolwe deur die akademiese wêreld, die toerismebedryf en die kunste gestuur.

Saayman het aan kanker gely.

Melville Saayman.Foto: verskaf

Die gewese adjunk-visekanselier van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, prof. Fika Janse van Rensburg, sê Saayman se bydrae by die universiteit was bykans onmeetbaar.

“Hy het ’n navorsingskool uitgebou wat in sy veld ’n leier in die land was en internasionaal ook erkenning geniet het,” sê Janse van Rensburg.

Saayman was die direkteur van Trees (Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing), ’n navorsingseenheid van die NWU.

Dié eenheid het veral gefokus op marknavorsing, statistieke en behoeftebepaling in die toerismebedryf.

Saayman is bekroon vir sy talle navorsingsprojekte oor toerisme, die wild- en biltongbedryf en is vyf keer as die NWU se navorser van die jaar aangewys.

Talle studente aan die Noordwes-universiteit (NWU) het op Facebook waardering vir Saayman as ’n mentor uitgespreek.

Marco Scholz, ’n bestuurslid van Trees, sê in ’n huldeblyk op Facebook:

“Prof het twee lewens in een geleef, vyf lewens se doelwitte behaal en baklei met kanker soos ’n gladiator – ons is nie bedoel om alles te wen nie. Prof het die reg om nou bietjie te rus. Jy was ’n goeie mentor, ons sal prof se droom, wat ons droom geword het, van hier af kan verder vat.

Hy was die eerste Suid-Afrikaner om as hulpbronredakteur van die toerismevaktydskrif Annals of Tourism Research aangewys te word.

“Met ’n bitter seer hart en ’n onblusbare dryfkrag vir die toekoms, groet ek vir prof.”

Janse van Rensburg sê Saayman se kennis oor toerisme en die verwante bedrywe was baie werd vir die bestuur van Aardklop.

“Selfs toe hy al baie siek was, het hy elke vergadering bygewoon en steeds ’n bydrae gelewer.” sê Janse van Rensburg.

“Melville, jou stoel by die fees en die vergaderings staan nou leeg, maar ons dra jou nalatenskap met ons saam. Ons sal jou veral onthou as ’n kampvegter vir diegene sonder genoegsame hulpbronne en geleenthede, en jou groot hart vir die breër Potchefstroom-gemeenskap. Jou stem het deel van ons gewete word,” sê Alexa Strachan van Aardklop in haar huldeblyk.

Saayman was onder meer lid van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad, die Noordwes Parke- en Toerismeraad en die internasionale organisasie die Vereniging vir Internasionale Kundiges oor Toerisme (AIEST).

Hy was die eerste Suid-Afrikaner om as hulpbronredakteur van die toerismevaktydskrif Annals of Tourism Research aangewys te word.

Saayman laat sy vrou, prof. Andrea Saayman, en twee dogters, Dominque en Anais, agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.