Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Potchefstroom-kunstefees maak sy buiging

Potchefstroom begin nou in alle erns weer sy vere regskud vir ’n kunstefees wat in Oktober hier plaasvind, maar dit sal nie meer as Aardklop bekend staan nie.

Die Potchefstroom-kunstefees word van 4 tot 9 Oktober gehou, het Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV en woordvoerder vir die Aardklop-belanghebbendes, Woensdagoggend in ’n nuusverklaring bekend gemaak.

Volgens Gouws kon hulle nie die naamregte vir Aardklop verkry nie. 

Genoeg borge is egter reeds gewerf om die fees te laat voortgaan. Die borge sal eers met die amptelike bekendstellingsgeleentheid in Mei bekend gemaak word, sê Karen Meiring, hoof van kykNET en deel van die groep Aardklop-belanghebbendes. 

Die aankondiging kom nadat die Aardklop-stigting in Februarie bekend gemaak het die jaarlikse Aardklop- nasionale kunstefees in Potchefstroom word gestaak. Verskeie belangegroepe, onder meer die Tlokwe-sakekamer en -munisipaliteit, asook die Noordwes-Universiteit, gemeenskapsleiers en stigtersborge, het hierna besluit om in belang van Potchefstroom se ekonomie en die kunste te probeer vasstel of ’n kunstefees steeds gehou kan word. 

Dié groep, die Aardklop-belanghebbendes, het borge begin werf omdat so ’n fees nie sonder borge aangebied kan word nie.

Gouws het Woensdag gesê hoewel die gestelde doelwit (vir borge) nog nie heeltemal bereik is nie, was die terugvoer so positief dat die groep besluit het die fees kan wel voortgaan. 

Nog borge gaan nou gewerf word. ’n Feesbestuur moet ook spoedig aangewys word, terwyl meer inligting oor inskrywings en aansoeke vir stalletjies en ander dienste waarskynlik al teen middel volgende maand beskikbaar sal wees. 

Meiring het Woensdagoggend gesê die feesterrein sal terugskuif na die Bult-gebied in Potchefstroom. Die terrein is sowat twee jaar gelede van daar na die Fanie du Toit-sportterrein verskuif. Feesgangers het gekla oor die hoë toegangsgeld en dat die atmosfeer nie dieselfde is nie.

Meiring sê indien moontlik wil die organiseerders toegang tot die feesterrein gratis probeer maak.

Volgens Gouws het die aankondiging om Aardklop te staak, ’n groot leemte gelaat vir drama, klassieke musiek en ander kunsvorme in die noorde van Suid-Afrika. 

“Aardklop het vir 18 jaar so ’n platform geskep met die hulp van stigters- en ander borge wat baie in die handelsmerk, die kunste en die Potchefstroomse gemeenskap belê het. 

“Die goedgesindheid en geesdrif van die Potchefstroomse sake- en gemeenskapsleiers, stigters- en ander borge, asook die breë kunstegemeenskap, was verstommend. Dit het die besluit vergemaklik om met die fees voort te gaan.”

Meer oor:  Potchefstroom  |  Atkv  |  Aardklop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.