Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Premature baba met ‘groot veggees’ na 116 dae huis toe

’n Baba van George wat by geboorte slegs 500 g geweeg het en tegnies as ’n miskraam geklassifiseer is, het haar gesin en dokters se wildste verwagtinge oortref.

Baba Grace Petro se ma, Jacqueline, se hart was swaar op 27 Mei toe haar baba op minder as 25 weke gebore is, maar nie gehuil het nie.

Jacqueline met klein Grace op haar bors.

“Ek het Grace aanvanklik gegroet, aangesien sy so vroeg gebore is dat sy as ’n miskraam geklassifiseer is en nie direk na die geboorte asemgehaal het nie,” sê Jacqueline.

Die mediese span het egter nie moed opgegee nie en geveg om baba Grace te red, lui ’n verklaring van die gesondheidsdepartement.

Ná berading en min slaap is Jacqueline in kennis gestel van die wonderwerk dat haar baba asemhaal. “Al wat ek kon doen, was huil. Ek was in totale skok,” sê Jacqueline.

Haar optimisme was ongelukkig van korte duur, aangesien Jacqueline sewe dae later deur dokters ingeroep is. Daar is aan haar gesê dat haar dogtertjie waarskynlik nie sal oorleef nie. Sy het ’n 20%-kans om oorlewing gehad.

“Ek het vir die dokter gesê om my baba vir my te gee, en ek het haar op my bors gesit en vir die Here gesê dat as hy haar wil neem, hy dit nou moet doen, want hy sal môre nie weer hierdie kans hê nie,” sê sy.

Maar na 116 dae in die hospitaal het Jacqueline met Grace in die arm by die George-hospitaal uitgestap.

Baba Grace op tien dae oud.

Die maande in die hospitaal met Grace was vir Jacqueline ’n swaar tyd, aangesien sy boonop in Julie haar enkel gebreek het en dit moes geopereer word. “Hierdie jaar was moeilik, maar ek is dankbaar vir al die goeie dinge wat gebeur het,” sê sy.

Grace is Saterdag ontslaan, en luidens die verklaring was dit ’n vreugdevolle dag vir al die personeel in die neonatale eenheid in die George-hospitaal.

“Gracie het soveel uitdagings oorleef,” sê dr Ilse Els, hoof van die neonatale waakeenheid in die George-hospitaal. “Sy was van die begin af ’n sterpasiënt en het elke uitdaging aangepak. Haar oorlewing is ’n getuienis van die waarde van ’n warm broeikas, kangaroe-sorg (waar die ma die baba op haar bors dra vir vel-tot-vel kontak), veilige suurstofterapie, en borsmelk.

Grace op 110 dae oud.

“Dit, tesame met die werk van toegewyde verpleeg- en mediese personeel en die veggees in ’n baba van 500 g, het gemaak dat sy die een uit vyf is wat oorleef het.

“Haar pad vorentoe is lank; ons sal voortgaan om saam met haar die afstand aan te pak met opvolgafsprake in ons hoërisikokliniek en met die hulp van ons arbeidsterapie-span.”

Grace het ’n negejarige boetie wat gretig op haar tuiskoms wag. “Daar is soveel mense wat nie kan wag dat Grace huis toe kom nie,” sê Jacqueline.

Meer oor:  George  |  Ontslaan  |  Baba  |  Premature
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.