Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pret oor die hare wat waai!
Jacorine Fourie sê haar twee jongstes, Janco en Marlé-Nette, gee haar grys hare, maar sy is bly hulle kan die land vir ’n slag laat lag.Foto: Suzanne Venter

Hoe gemaak as jou sussie jou dare om jou wenkbroue af te pluk?

“Ek het die wax strip so lekker warm gevryf en toe pluk ek dit. Toe kom my hele eyebrow af,” sê Janco Fourie (10).

Hy en sy sussie, Marlé-Nette (9), begin weer giggel oor die nou bekende video waarin hul wenkbroue waai.

“Ek het nie gedink die wax strips gaan die hare regtig aftrek nie. Ek het gedink dit gaan net brand,” sê die klein snip wat die plan uitgedink het omdat sy verveeld was.

“Ek het gedink o gattas, al sy hare is nou weg en toe moet ons myne nog afpluk. Ek het so hartseer vir myself gevoel,” vertel Marlé-Nette.

Die twee se video wat wys hoe hulle wasstrokies op hul wenkbroue plak en dit dan afpluk, het die land aan die lag.

En soos met alle “goeie” idees is dié een uitgedink toe die tweetjies eintlik veronderstel was om rustig te raak en te slaap in hul huis in Klerksdorp, Noordwes.

Marlé-Nette het die wasstrokies een dag vroeg in Augustus in hul ma, Jacorine (40), se badkamerkassie ontdek. Sy het dit in strokies gesny.

Kort voor slaaptyd het sy haar ma se foon geleen.

En toe dare sy Janco om “die goed op jou eyebrows te sit en dit af te trek”.

Boetie het wal gegooi en gesê hy gaan dit eerder op sy been plak, maar sy sussie wou niks weet nie.

Marlé-Nette kon nie glo daar het net twee wit strepe oorgebly waar haar boetie se donker wenkbroue was nie. “Ek het so geskrik ek het my amper nat gepiepie van die lag.”

Die planmaker was toe só bang dat haar boetie haar hand moes vashou terwyl sy haar wenkbroue ook afpluk.

Marlé-Nette (9) en Janco Fourie (10) plak wasstrokies op hul wenkbroue en Janco pluk dan sy hele wenkbrou af.

Fourie was al in die bed toe haar twee giggelende jongstes met hul hande voor hul oë by haar aankom.

Sy kon eers nie sien wat fout is nie en het gedink Marlé-Nette het Janco met die grimeerkwas bygekom, maar toe besef sy hul wenkbroue is weg.

“Dié twee, weet jy. Hulle is nes hulle pa, Neels. Hy was altyd ’n bok vir sports,” vertel Fourie.

Neels is sewe jaar gelede in ’n motorfietsongeluk dood. Die gesin het toe naby die plaas op Christiana gebly waar hy gewerk het. Sy pa, Willie (77), is tydens die inperking dood aan ’n beroerte.

Janco en Marlé-Nette het twee ouer broers, Carlo (23) en Stephan (17).

“Die twee babas van my is altyd doenig met die een of ander video wat hulle maak, maar hulle mag niks oplaai sonder my toestemming nie,” vertel Fourie.

Niemand by ons skool, die Laerskool Saamtrek, het ons nog gespot nie.

Sy het die video van die wenkbroue wat waai op haar Facebook-blad gelaai en dit het soos ’n veldbrand versprei.

Sy sê die twee kinders het nog altyd daarvan gedroom om hul eie YouTube-kanaal te hê waar hulle die land kan laat lag. “Dit pla hulle verskriklik dat daar so baie hartseer in die wêreld is.”

Janco vertel geesdriftig: “Niemand by ons skool, die Laerskool Saamtrek, het ons nog gespot nie. Ek en my sussie dink daar is te veel kinders wat selfmoord pleeg en geboelie en gespot word. So, ons wil al die kinders nou dare om ook hul wenkbroue te pluk sodat ons mense kan laat lag oral waar hulle ’n kind sonder wenkbroue sien.

“En so kan ons vir mense try verduidelik dat die lewe oukei is en dat hulle nie moet hartseer wees nie.”

Net om die daad by die woord te voeg, het Janco wéér vandeesweek sy linkerwenkbrou afgepluk toe ’n maat gesê het hy glo nie Janco sal dit weer doen nie.

Albei se wenkbroue het intussen al effens begin teruggroei.

Meer oor:  Janco Fourie  |  Video  |  Wasstrokies  |  Wenkbroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.