Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pretoria-rotsklimmer verloor been ná val in Cederberge

’n Pretorianer se been, wat Saterdag op ’n staptog in die Cederberge onder ’n rots vasgepen was, is Saterdagaand in ’n Kaapse hospitaal geamputeer.

Jethro Malan Watson, wat oorspronklik van Kaapstad is, is steeds in die chirurgiese hoësorgeenheid in die Christiaan Barnard-hospitaal in die Moederstad.

’n Foto van Jethro Malan Watson op sy Facebook-blad waar hy besig is om bouldering te beoefen. Dit is rotsklim sonder ’n veiligheidstou. Foto: Facebook

Hy was saam met Nick Muehlhausen, ’n Amerikaanse vriend en mede-rotsklimmer, in die berge buite Clanwilliam toe hy beseer is.

Watson het oomblikke voor die ongeluk glo op ’n rotsformasie gaan staan, waarna dit onder hom ingegee het.

Nick Muehlhausen het Jethro Watson Saterdag met sy kaal hande onder ’n rots uitgegrawe. Foto: Facebook

“Die rots het op hom geval en albei sy bene vasgepen,” het Thys Kruger, eienaar van die De Pakhuys-kampeerterrein in die Cederberge, gesê.

“Voordat Nick hulp gaan soek het, het hy Jethro met sy kaal hande onder die rots uitgegrawe.”

Volgens hom is Watson se bene albei in die val gebreek. “Nick het die bloeding gestop deur ’n toerniket om sy bene te draai. Sy twee wit herdershonde het saam met hom daar gewag.”

Hy sê Muehlhausen het etlike kilometer ver gehardloop om selfoon-ontvangs te kry.

Kruger was op die gholfbaan toe hy kort ná 12:00 die oproep van Muehlhausen gekry het. Hy het dadelik die polisie en die SA Bergklub se soek-en-reddingspan ontbied.

“Dit het ’n reddingshelikopter amper vier uur geneem om hulle te bereik,” het Kruger gesê.

Nick Muehlhausen besig met rotsklim. Foto: Facebook

Die omgewing waarin die ongeluk gebeur het, is in die noordelike deel van die Cederberge en volgens Kruger is dit baie afgeleë. Die grond behoort aan CapeNature.

Kruger sê hulle is Saterdagaand laat weet dat Watson se regterbeen geamputeer is. Hy het glo op twee plekke oop frakture aan sy regterbeen gehad.

“Hulle moes glo sy been amputeer om sy lewe te red. Sy linkerbeen het ook ’n fraktuur opgedoen, maar dis gelukkig nie so ernstig nie.”

Volgens Kruger beoefen Watson en Muehlhausen die bergklimsport bouldering (rotsklim sonder ’n veiligheidstou) en hulle het by De Pakhuys gekampeer.

“Jethro is reeds twee maande hier en Muehlhausen is ook al ’n geruime tyd in die Cederberge. Dis nou bouldering-seisoen,” sê hy.

Hy sê albei mans het al voorheen by hom gekampeer en bly gewoonlik sowat drie maande op ’n slag.

Meer oor:  Cederberge  |  Rotsklimmer  |  Been  |  Amputasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.