Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Private speurder veg om sy lewe teen Covid-19

’n Private speurder van Heidelberg in Gauteng veg tans om sy lewe in die hospitaal nadat hy Covid-19 opgedoen het.

George Booker (57) is tans in die waakeenheid van die Life Suikerbosrand-hospitaal nadat hy op 8 Januarie positief vir die koronavirus getoets is.

Yolandi Boshoff, Booker se dogter, het Woensdag aan Netwerk24 gesê haar pa se toestand is kritiek. “Hy kry tans suurstofbehandeling.”

Volgens haar is dit onduidelik waar hy die virus opgedoen het.

George Booker Foto: Verskaf

“My pa is ’n bedrywige persoon. Hy doen private speurwerk, vang slange, ry trokke oor die land heen en hy is ook baie betrokke in die gemeenskap en maak gereeld saam met ander gemeenskapslede die strate skoon.”

Booker is ook die voorsitter van die Bersig-gemeenskapspolisiëringsforum en was in die 1980’s ’n polisielid.

Boshoff het gesê haar pa was nog altyd baie versigtig vir die virus gewees en het die gesondheidsregulasies, soos die handhawing van gesonde afstande en die was van hande, nagekom.

“My pa het op 3 Januarie begin siek voel. Hy het nie ’n ophef daarvan gemaak nie omdat hy gedink het sy liggaam is in skok nadat hy die vorige dag vir ’n slangbyt gekoes en geval het. Hy het sieker geword en my ma het hom intussen oorreed om dokter toe te gaan.”

Hy is vir Covid-19 getoets en sy positiewe uitslag is op 8 Januarie ontvang.

Sy het gesê haar pa is op 9 Januarie in die hospitaal opgeneem, omdat hy nie kon asem kry nie. “My pa is toe op 11 Januarie na die waakeenheid geskuif.”

Booker se gesin het boonop vandeesweek uitgevind dat sy mediese fonds eers vanaf 1 Februarie in werking tree en benodig dringend geld vir sy behandeling.

“Ek het my ouers aan die einde van verlede jaar aangeraai om weens die virus by ’n mediese fonds aan te sluit. Hulle het intussen by een aangesluit, maar is nog in hul wagperiode.”

Booker se vrou, Ansie, en jongste seun, JP, is ook vir die virus getoets. “Ons wag nog op hul uitslae,” het Boshoff gesê.

Baie dankie vir elke persoon wat al gehelp het. Ons kon vandag R120 000 aan die hospitaal betaal. Dit dek egter net 2 dae.... Ons benodig dus nog R340 000 + Deel asb ??

Posted by Yolandi Boshoff on Tuesday, 12 January 2021


Meer oor:  George Booker  |  Heidelberg  |  Gauteng  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.