Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Prof. gedreig ná uitsprake oor AfriForum-statistieke
Prof. Elmien du Plessis, medeprofessor in regte aan die Noordwes-Universiteit. Foto: Argief

Prof. Elmien du Plessis is op verskeie platforms gedreig nadat sy AfriForum se statistieke oor plaasmoorde en verwante inligting oor grondhervorming bevraagteken het.

Du Plessis, ’n medeprofessor in die regte aan die Noordwes-Universiteit, sê sy is bekommerd daaroor dat dít die gevolg is van wat ’n gesonde debat behoor te wees.

“Dit is jammer dat mense my dreig omdat ek die interpretasie van statistieke bevraagteken.

“Landsburgers het ’n verantwoordelikheid om nie net klakkeloos ’n mening te vorm na aanleiding van statistieke nie. Die interpretasie daarvan en hoe die statistieke bereken word, behoort bevraagteken te word voordat ’n mens ’n mening daaroor vorm.”

Du Plessis het Saterdag begin om ’n reeks twiets te plaas wat AfriForum se statistieke oor plaasmoorde en die verwante inligting oor grondhervorming bevraagteken.

Lees haar volledige standpunt hier. 

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, het in reaksie ’n video op YouTube geplaas waarin hy beweer Du Plessis sit die pot mis.

Du Plessis sê nadat die video gepubliseer is, het sy verskeie boodskappe gekry waarin mense haar dreig.

Sy sê sy het Maandagaand ’n anonieme oproep gekry waarin ’n man die oproep afgesluit het met die woorde: “Jy is volgende.”

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum. Foto: Argief

Du Plessis sê sy was alleen by die huis.

“Die dreigemente is nie lekker nie. Ek is bekommerd.”

Haar ma en suster se besonderhede is ook wyd op sosiale media versprei. Iemand het gesê haar ma is te skaam om haar gesig te wys omdat hulle familie van “satan se kind is” en dat “hulle almal in die hel moet brand”.

Dié kommentaar is op Roets se Facebook-blad geskryf, maar is later verwyder.

Du Plessis is ook omgekrap daaroor dat Roets die Joodse skrywer Victor Klemperer aanhaal in sy video van 31 minute lank: “But I would have all the intellectuals strung up, and the professors three feet higher than the rest; they would be left hanging from the lamp posts for as long as was compatible with hygiene.”

Roets sê ’n mens sal “intellektuele gimnastiek” moet toepas om dié aanhaling as ’n dreigement te interpreteer.

Hy sê dit is beslis nie ’n dreigement nie. “Dit gaan daaroor dat ons veldtog nie afhanklik kan wees van die goedkeuring van progressiewe akademici nie.”

Roets het aan Du Plessis op Twitter gesê sy gee die “regskundige akademiese beroep ’n swak naam met dié reeks pseudo-intellektuele onsin (“poppycock”)”.

Du Plessis verstaan nie waarom daar eers ’n persoonlike aanval moet wees voordat die feite beredeneer word nie.

Roets hou vol hy het haar nie persoonlik beledig nie. “ ’n Mens moenie so sensitief en huilerig wees as jy ’n akademikus is wat aan ’n debat deelneem nie. Ons is in ’n bokskryt. Wanneer jy houe uitdeel, moet jy houe terug kan vat. Dis hoe dit werk in ’n politieke debat.”

Du Plessis sê Roets se woordkeuse maak haar bekommerd. “Dit is aggressiewe oorlogstaal. Natuurlik kan ons verskil, natuurlik moet ’n mens kritiek kan verdra en oorweeg. Maar ons is nie in ’n oorlog nie. Ons stem saam dat lewe kosbaar is en beskerm moet word.

“Ons moet sit en oplossings vind. Daarom verkies ek eerder die metafoor van ’n tafel. Dat ons om ’n tafel gaan sit. En dinge kan ongemaklik raak, want ons verskil en ons verskil soms drasties. Die vraag is net hóé mens die probleem oplos.”

Meer oor:  Elmien Du Plessis  |  Debat  |  Plaasmoorde  |  Aanval  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.