SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Prof. Jaap ná 37 jaar weer verwelkom as NG predikant

Die pyn is nou genees, het ’n emosionele prof. Jaap Durand (85) van Stellenbosch Dinsdagaand in Bloemfontein gesê nadat sy ampsbevoegdheid in die NG Kerk herstel is. Dit nadat dit hom 37 jaar gelede weens sy betrokkenheid by Belhar en sy kritiek teen apartheid ontneem is.

Die kerk het Durand, ’n gerespekteerde teoloog en skrywer, in 1982 uit die amp van predikant ontslaan.

Ds. Bertus Celliers het in die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein die bevoegdheidsverklaring namens die Algemene Taakspan Predikantesake (ATP) van die NG Kerk aan hom oorhandig.

Die kerkangers in die diens ter legitimasie van tien nuwe predikante wat aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se fakulteit teologie en religie gestudeer het, het spontaan opgestaan en hande geklap.

Durand en Verena Schoeman van Bloemfontein, wat die naweek in dieselfde kerk saam die boek Bloedbruide van Christus bekend gestel het, was oorstelp toe die aankondiging gedoen is.

Prof. Jaap Durand (85) word deur prof. Rantoa Letsosa, dekaan van die fakulteit teologie en religie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), gelukgewens pas nadat hy weer as predikant in die NG Kerk toegelaat is. Hy is 37 jaar gelede weens sy betrokkenheid by Belhar van die status ontneem. Foto: Charles Smith

“Ek is stomgeslaan. Ek het dit nie geweet nie, dan sou ek ten minste anders aangetrek het,” het hy daarna voor die kerk se kansel gesê. Hy het die diens as ’n gas met ’n gewone hemp bygewoon, totaal onbewus waarvoor hy genooi is.

“Dit was 37 jaar lank pynlik. Dit het al die tyd natuurlik in ’n mens se agterkop gesit. Ek het nie altyd daaraan gedink nie, maar daar was tye dat dit skielik teruggekom het. En dit was alles oor Belhar dat hulle my ontneem het,” het hy gesê.

Ek is stomgeslaan. Ek het dit nie geweet nie, dan sou ek ten minste anders aangetrek het.
Jaap Durand
Prof. Jaap Durand ontvang hier sy bevoegdheidsverklaring om weer as predikant te kan werk van ds. Bertus Celliers van die Algemene Taakspan-predikantesake van die NG Kerk – 37 jaar nadat sy bevoegdheid weens sy betrokkenheid by Belhar van hom weggeneem is. Hy het nie die oomblik verwag nie. Die sertifikaat is met 'n diens in die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein vir die legitimering van die nuwe predikante aan hom oorhandig. Foto: Charles Smith

“Daar is genesing, sekerlik. Ek is net jammer my vrou is nie vanaand hier saam met my nie. As ek dit geweet het, sou ek haar gebring het. Maar sy is siek.”

Durand se eerste vrou, Randu, is op 52 dood aan kanker. Sy is op Stellenbosch begrawe. Sy tweede vrou, Sonja Bell, het ook kanker en ly aan vroeë demensie.

“Ek sou vanaand baie graag met haar wou deel. Daardie aand toe dit gebeur het, was baie pynlik. Sonder twyfel. Dit is ’n groot aand, dit is net jammer dat sy nie hier is nie.”

Durand is in Dealesville gebore en aan die UV gelegitimeer. Dit is hoekom die NG Kerk in die Vrystaat drie jaar lank geveg het om hom weer as predikant toe te laat.

Die NG Kerk in die Vrystaat het ook afskeid geneem van twee dosente, prof. Fanie Snyman, vorige dekaan van die fakulteit teologie en religie aan die UV, wat Dinsdagaand die diens gelei het, en prof. Pieter Verster. Albei tree vanjaar af en is demissie verleen.

Ds. Jan Lubbe, leraar aan die NG kerk en voorsitter van die kuratorium in die Vrystaat, het gesê die UV het met sy tien proponente wat gelegitimeer is net soveel as by die Universiteit van Pretoria (UP) en meer studente as Stellenbosch gehad.

“Daarmee stuur die NG Kerk Vrystaat ’n sterk boodskap uit oor die gehalte van opleiding in Bloemfontein, sowel in akademiese sin aan die fakulteit teologie as in ons seminarium waar hul kerklike vorming en begeleiding gedoen word.”

Meer oor:  Jaap Durand  |  Verwelkom  |  Ngk  |  Ng Predikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.