Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Profeet laat kerk skerp groei

Die profeet Shepherd Bushiri sê sy kerk het veelvoudig gegroei danksy die leierskapsopleiding wat hy aan sy volgelinge bied, sowel as sy boodskap van hoop, vergifnis en van hoe God vir sy mense lief is.

profeet Shepherd Bushiri
Profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, voor die kommissie wat in Braamfontein sit. Foto: Reneilwe Dhludhlu

Bushiri, van die Enlightened Christian Gathering-kerk (ECG) in Pretoria, het Maandag voor die Kommissie vir die Bevordering van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (CRL) in Braamfontein, Johannesburg, verskyn.

Drie vroue is op 28 Desember verlede jaar in ’n stormloop by die kerk dood. Die kerkgangers buite het in die kerkgebou skuiling gesoek toe ’n onverwagse donderstorm uitgebreek het. Nog 17 mense is beseer.

Die vroue se lyke is glo van die toneel verwyder voordat die polisie van hul dood in kennis gestel is.

Thoko Mkhwanazi-Xaluva, CRL-voorsitter, wou by Bushiri weet hoe die kerk gegroei het sedert hy daar is.

Bushiri het geantwoord daar was net 35 kerkgangers toe die kerk in 2012 begin is.

Met sy aansluiting in Januarie 2015 was daar minstens 200 lidmate en teen die einde van daardie jaar was daar 15 000 geregistreerde lidmate, sê hy.

Die kerk het 100 000 lidmate by die Tshwane Events Centre-gemeente in Pretoria-Wes en 750 000 landwyd.

Mkhwanazi-Xaluva het herhaaldelik gesê dié groei is ongehoord: “Hoe kry jy dit reg? Ek is seker ander profete wil ook weet.”

Bushiri sê dit word gedoen deur die evangelie te versprei onder mense wat nog nooit in die kerk was nie en ook deur te fokus op diegene wat nie meer kerk toe gaan nie. Hy sê omdat hy ’n leier is, skep by ook ander leiers wat dan bydra tot die groei van die kerk.

Hy sê die kerk in Pretoria het 10 000 leiers.

Toe hy gevra is of die kerk se bedrywighede van sy teenwoordigheid afhanklik is, het hy nee geantwoord.

“Ons het 1 000 takke nasionaal. Hulle gaan sonder my voort.”

Hy sê daar is ook planne om ’n permanente kerkgebou te bou op die terrein waar daar tans kerk gehou word.

Volgens hom het die Tshwane-metroraad nooit grond aan die kerk geskenk soos berig word nie. “Ons het ons eie grond in Midrand gekoop.”

Die grond is glo teen R66 miljoen gekoop.

Mense van oor die wêreld heen het geld geskenk vir die grond, sê Bushiri. Hy sê finansiële verslae van die kerk sal aan die kommissie beskikbaar gestel word.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Stormloop  |  Sterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.