Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Prokureur veg terug ná twiet sê ‘hy verkrag’

Die prokureur en sosialemedia-aktivis Tumi Sole het Donderdag ’n foto van die uitslag van ’n MIV-toets op sosiale media geplaas om ’n anonieme bewering dat hy iemand verkrag het verkeerd te probeer bewys.

Tumi Sole, wat moes bewys dat hy MIV-negatief is.

Sole, wat meer as 340 000 volgelinge op Twitter het, is een van talle mans wat die afgelope week op sosiale media by name beskuldig is van geweld teen vroue. In sy geval het die aantyging gekom via ’n anonieme Twitter-rekening, @HSurvivers2. Hy is beskuldig dat hy ’n vrou in ’n Durbanse hotel verkrag het en dat sy nou antiretrovirale medisyne moet gebruik.

Sosialemedia-profiele soos @HSurvivers2 het oral opgeduik te midde van grootskaalse woede wat onder meer deur die moord op die Ikey-student Uyinene Mrwetyana tot uitbarsting gekom het.

Die profiel @HSurvivers2 het sedert Maandag meer as 7 000 volgelinge gekry, terwyl ’n ander profiel, @helpsurvivers, meer as 21 000 volgelinge gehad het.

Altwee dié rekeninge is egter teen gistermiddag deur Twitter opgeskort “weens ’n oortreding van Twitter se reëls”.

“Ons twiet anoniem vir diegene wat wil uitpraat, maar te bang is. Wat jy sien, is wat aan ons gestuur is en ons glo elkeen van hulle,” het die beskrywing by die @HSurvivers2-profiel gelui.

Sole sê hy gaan regstappe doen teen die eienaars van die Twitter-profiel en die persoon wat die aantyging gemaak het.

In reaksie het @HSurvivers2 die twiet op die vrou se versoek verwyder, maar sy het gesê sy staan by die bewerings “en ons glo haar”.

Emma Sadleir, ’n prokureur wat spesialiseer in digitale regte, sê haar prokureursfirma, The Digital Law Company, is die afgelope week oorval met oproepe van mans wat sê hul lewe is verwoes weens sulke anonieme beskuldigings.

Sadleir sê mense het verskeie regsopsies as die bewerings teen hulle vals is. Daar is ook maniere om vas te stel wie die eienaars van anonieme rekenings is.

“Dit is natuurlik in die openbare belang dat inligting oor misdade teen vroue gepubliseer word, maar diegene wat die aantygings maak, moet kan bewys dat wat hulle sê waar is,” sê Sadleir.

Meer oor:  Tumi Sole  |  Twitter  |  Verkragting  |  Miv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.