Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Protea-ster en vrou ‘op donker plek’ ná 1 van tweeling sterf

Hulle is hospitaal toe vir die geboorte van hul tweeling, maar in plaas van twee asempies het net een huis toe gekom.

Pietie (links) en Roxy kort nadat hul babaseuntjie, Jesse, gebore is.

“Dis ongelooflik moeilik om soveel vreugde en hartseer tegelyk te ervaar en ons is op ’n baie donker plek,” het Pietie Coetzee-Turner (41) vandeesweek per e-pos aan Rapport gesê.

Dié voormalige “doelmasjien” van die Protea-hokkiespan en haar vrou, Roxy Coetzee-Turner (32), se babaseuntjie, Jesse Gunner, is die afgelope week veras.

Die Coetzee-Turners, wat in Amherst in Amerika woon, het ’n driejarige dogtertjie, Scoddy, en wou graag nóg ’n baba hê. Ná in vitro-bevrugting het Roxy swanger geraak met Jesse en sy tweelingsussie, Maxi Micaela.

In ’n ondersoek op 20 weke van swangerskap is ’n hartdefek by Jesse gevind. Dit moes herstel word met ’n opehartoperasie kort ná sy geboorte.

Die defek kom daarop neer dat die vate, aorta en pulmonêre aar omgeruil is.

Dis ongelooflik hartseer en ons wêreld is onder ons uitgeruk.

Die tweeling is op 27 Januarie in ’n hospitaal in Boston gebore en Jesse is op 30 Januarie geopereer. Aanvanklik het dit gelyk of dit ’n sukses was, maar Jesse se toestand het versleg en hy is die volgende dag in die hospitaal dood.

“Ons albei wens nou dat ons hom meer vasgehou en gesoen het in daardie vier dae,” sê Pietie.

“Ons het altyd geweet dat dit ’n baie groot en ernstige operasie is, maar die hospitaal is so uitstekend. Statistiek toon dat hulle 99% suksesvol is met die hantering van moeilike toestande by kinders en babas.

“Maar ja, ons was toe nou ongelukkig die 1% wat die hospitaal verlaat het sonder ’n lewendige babaseuntjie. Dis ongelooflik hartseer en ons wêreld is onder ons uitgeruk. Elke keer as een van ons vir Maxi optel of na haar kyk, is daar ’n oomblik wat alles net te veel raak en jy net wil ingee.”

Hoewel hulle hard probeer fokus op die vreugde en geluk wat die nuwe babadogtertjie gebring het, herinner sy hulle telkens aan haar boetie wat nie daar is nie.

“Maar sy is dierbaar en help ons om dit oomblik vir oomblik te vat en in elke oomblik te leef,” sê Pietie.

Scoddy het ook baie uitgesien na die nuwe boetie en sussie en het onmiddellik gevra waar haar boetie is. Haar ouers het vir haar verduidelik hy is in ’n ander kamer waar dokters en verpleegsters hom help. Toe sy weer vra, het hulle vir haar gesê hy het ’n eina in sy hart gehad en al het die dokters hul bes probeer om dit beter te maak, kon hulle hom nie help nie en hy gaan nie meer saam met hulle huis toe nie.

“Sy het nog nie weer vrae gevra nie en ons dink op ’n manier verstaan sy.

“Ons is nog nie seker wanneer ons vir hom ’n gedenkdiens gaan hou en hoe ons dit gaan doen nie, maar sal dit graag wil doen wanneer meer van ons vriende en familie by ons is,” sê Pietie.

Aangesien Jesse se operasie en behandeling geweldig duur was, het Pietie ’n aanlyn Gofundme-fonds gestig om geld in te samel. Dit het alles gebeur in die tyd toe sy ’n afrigtingspos in Boston, sowat twee uur se ry van Amherst, aanvaar het.

“Die ondersteuning wat ons daardeur en op ander maniere van vriende, familie en ’n netwerk van kennisse gekry het, was oorweldigend. Ons sal nooit genoeg kan dankie sê vir almal wat gehelp het dat ons seuntjie die beste kans op oorlewing kon kry nie.

“Ons pragtige dapper seuntjie het ons in sy kort lewetjie geleer dat die lewe baie ‘broos’ kan wees en dat die kans om te leef ’n voorreg is.”

Meer oor:  Boston  |  Tweeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.