Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pyn oor Reeva ‘word nog nooit ligter’, sê June Steenkamp
Reeva Steenkamp waar sy saam met twee dolfyne geswem het. Sy het dié oomblik as een van die beste ervarings in haar lewe beskryf. Foto: Argief

As ek geweet het watter tipe man hy is, het ek self Johannesburg toe gegaan om my kind te gaan haal.

Dit was Donderdag die woorde van June Steenkamp (71), die ma van wyle Reeva Steenkamp wat op Valentynsdag in 2013 deur haar kêrel, die voormalige paralimpiese atleet Oscar Pistorius, vermoor is.

Pistorius het Reeva in sy huis in Pretoria doodgeskiet. Hy dien tans tronkstraf van 13 jaar uit weens die moord.

Hoewel dit oor sowat twee weke reeds sewe jaar is sedert Reeva se tragiese skietdood, het die pyn en hartseer vir haar ouers, June en Barry Steenkamp, nie ligter geword nie. June sê die jare mag dalk aanloop, maar dit het nog nooit beter geword nie.

Dit wat gebeur het, is aaklig en dit het ons lewens heeltemal geruïneer. Ons herleef dit nog elke dag asof dit gister was.
Reeva se ouers, Barry en June Steenkamp. Foto: Lulama Zenzile

“Dit wat gebeur het, is aaklig en dit het ons lewens heeltemal geruïneer. Ons herleef dit nog elke dag asof dit gister was.

“Tensy iemand self ’n kind aan die dood afgestaan het, sal hulle nooit die pyn verstaan nie. Dit is die onnatuurlikste gevoel ooit.”

Reeva Steenkamp en Oscar Pistorius. Foto: Argief

Volgens June is dit veral die traumatiese en gewelddadige wyse waarop Reeva gesterf het, wat by hulle spook.

Sy sê as ouer sal ’n mens enigiets doen om jou kind te beskerm, maar hulle kon Reeva nie teen dié gebeure beskerm nie.

Ten spyte van alles wat gebeur het, het June tog deur haar geloof vir Pistorius vergewe, sê sy.

Sy praat met dankbaarheid oor die mense van Port Elizabeth wat haar sedert Reeva se dood ondersteun het, en wat steeds daar is vir haar en Barry.

Om Reeva se dood te herdenk gaan die Steenkamps op Valentynsdag saam met familie en vriende Pollokstrand in Port Elizabeth besoek, waar hulle destyds Reeva se as gestrooi het.

Hier gaan hulle vir Reeva bid en blomme in die see strooi.

June sê soms as hulle daarheen gaan, verskyn die dolfyne.

“Reeva was verskriklik lief vir dolfyne. Toe sy op die Tropika Island of Treasure-televisiereeks verskyn het, het sy die kans gekry om saam met twee dolfyne te swem.

“Toe sy my daarvan vertel, het sy gesê dit was die beste ervaring wat sy nog ooit gehad het in haar lewe,” vertel June.

June en Barry glo ook die dolfyne wat hul verskyning hier maak is ’n teken van Reeva dat sy met hulle is.

Hulle glo in hul harte dat Reeva se siel nou rus en vrede gevind het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.