Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Queen-lid prys ook Rustenburg-koor

Selfs die Queen-tromspeler Roger Taylor is in vervoering oor ’n video van die Hoërskool Rustenburg se koor wat dié groep se bekende “Bohemian Rhapsody” uitvoer.

“Soveel werk, so perfek uitgevoer deur wonderlike talentvolle sangers en musikante. Dit het my geraak. Dit is briljant gedoen,” het Taylor Rapport laat weet.

Die opslae wat dié video aanlyn gemaak het, het die koor se deeltydse dirigent, Ralf Schmitt, heeltemal onkant gevang.

Veral vir die kinders se onthalwe het hy gehoop die video word 10 000 keer gekyk. Vier uur later is dit 100 000 keer gekyk, en op Facebook meer as ’n miljoen keer. En die aandag het nog nie opgehou nie.

Tog skryf die orrelis Francois Blom op Facebook: “Ek gaan myself in ’n netelige posisie stel en party van julle mag my kruisig, maar ek is minder beïndruk met die koor van Rustenburg . . .”

In reaksie daarop skryf Adriaan Brand, stigterslid van die groep Springbok Nude Girls, hy dink dis “uitstekend afgepull”.

Brand het aan Rapport gesê hy beskou die uitvoering as wêreldklas. “Die hele koor was uitstekend, en die soliste ongelooflik.”

Een van dié soliste, Bernice van der Westhuizen, oftewel Bernice West, is die jongste finalis in die topvyf van Emo Adams se TV-reeks Maak My Famous.

Blom het by navraag gesê die soliste se stemme is geforseerd. “Ek is bekommerd oor hul stemme.”

Hy sê ateljeewerk (die Rustenburgse koorvideo is in ’n ateljee opgeneem) “skep onmoontlike verwagtinge vir ander kore”.

Volgens hom het dit weens die ateljeeopname ’n gebrek aan musikale integriteit. Ander koormusiekkenners met wie hy gepraat het, voel dieselfde, sê hy.

Maar Brand sê daar is ’n musikaal-teatrale volwassenheid by die koor wat hy nog nie in Suid-Afrika by skoolkinders gesien het nie

Schmitt is ook die dirigent van die Ndlovu Youth Choir van Limpopo, wat selfs die tawwe America's Got Talent-beoordelaar Simon Cowell met hul oudisie in Los Angeles oorbluf het.

Schmitt knip nie ’n oog toe Rapport hom oor Blom se inskrywing vra nie. “In die musiek wat ons doen, neem jy die vol stem sover jy kan, en wanneer jy dit bemeester, is dit nie geforseerd nie. Ek dink (wat die koor doen) is só ver uit Francois se gemaksone.”

Schmitt (37) help die afgelope dekade met die afrigting van die Hoërskool Rustenburg se koor.

Hy sê ’n mens moet musiek skep wat die gemiddelde mens wil hoor. “Niemand luister na klassieke musiek of is naastenby geïnteresseerd in koormusiek nie. Dit is regtig lekker om te sien hoe koel ’n koor kan raak.”

Schmitt het ’n lang geskiedenis met musiek. Hy was ses jaar lank lid van die Drakensberg-seunskoor voordat hy die graad BMus aan die Universiteit van Pretoria behaal het.

Dié pa van twee glimlag skamerig wanneer mens hom oor sy talent en suksesgeheim vra. “Sodra jy dink jy is goed, is dit wanneer dit eindig.”

Vir hom is die doel van video’s wat wyd versprei word dat die res van die wêreld die koor kan sien.

“Ek het vir die Ndlovu-koor ook gesê: ‘As jy ooit in jouself twyfel, gaan kyk net wat die wêreld van jou dink.’ ”

Meer oor:  Roger Taylor  |  Ralf Schmitt  |  Bohemian Rhapsody  |  Koor  |  Hoërskool Rustenburg  |  Queen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.