Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Queer’-aktiviste beset steeds huis in Kampsbaai

Die polisie ondersoek ’n bedrog-en-betredingsaak teen ’n groep “queer”-aktiviste in Kaapstad wat ’n luukse huis op Kampsbaai se strandfront beset nadat hulle dit vir net drie dae gehuur het.

Die sewe kunstenaars en aktiviste van die Queer Radical Feminist Activist Collective beset die huis onder die vaandel #WeSeeYou. Die huis met sy ses slaapkamers, swembad en borrelbad, is onder bestuur van Turnkey365 en is op Airbnb teen R4 000 per aand gelys.

Sers. Noloyiso Rwexana sê die saak is verlede Donderdag geopen en die polisie het nog nie teen die groep opgetree nie.

“Die polisie in Kampsbaai het in hierdie stadium nog niemand in hegtenis geneem of uitgesit nie, en die ondersoek duur voort,” het Rwexana gesê.

Sarah Summers, Xena Scullard, Lethabo Hanong en Vatheka Halile wat deel is van die groep wat die huis in Kampsbaai beset. Foto: Verskaf

Die groep, Kelly-Eve Koopman, Wewe Ngidi, Sarah Summers, Xena Scullard, Lethabo Hanong, Vatheka Halile en Devaarne Muller, het die eienaars van die huis verlede Maandag ingelig dat hulle nie gaan uittrek nie.

Hulle het die huis vir drie nagte gehuur, maar bly nou reeds ’n week langer daar sonder om te betaal.

Muller sê op sosiale media dat sy nie die huis vir huisvesting vir haarself beset nie.

“Ek beset dit uit protes teen buitensporige rykdom wat swart mense al die jare misgun word. Ek betoog uit protes teen ’n huis wat op histories omstrede grond gebou is en wins vir ’n paar uitverkorenes genereer, terwyl die meerderheid in Kaapstad in ’n behuisingskrisis verkeer en soveel mense in die stad nie huur kan betaal nie.

“Ek bewoon hierdie huis omdat dit tydens die Covid-19-inperking leeggestaan ??het terwyl dit kwesbare vroue, kinders en vreemde mense kon huisves wat ’n veilige ruimte benodig het.”

Sy doen dit ook uit solidariteit met die talle ander besettings wat tans in die stad plaasvind – weggesteek aan die buitewyke van die stad waar dit nie die glansryke leuen van Kaapstad kan besoedel nie, volgens haar.

“Hierdie besetting is ook uit protes teen die geskiedenis van Kampsbaai waarin swart en bruin mense uitgewis en verwyder is,” skryf sy.

Volgens Muller wou baie mense weet oor die bedrag geld wat hulle saamgegooi het om die huis te kon bekostig.

“Dit is die taktiek wat die rykes gebruik om ons uit te hou. Ons kan nie oorlog voer teen ruimtes wat ons nie kan binnedring nie. Elke geveg is uniek. Om dit aan te pak, moes ons toegang tot die huis kry op watter manier ook al moontlik.”

Die groep sê hy kan nie saamleef met ’n stelsel wat so onregverdig is en wat die veiligheid en welstand van so baie mense minag nie.

Koopman het Maandag by navraag gesê die groep sal nie onderhoude toestaan nie.

’n Regsproses is intussen aan die gang om hulle uit die huis te sit.

Gaby van Wyk, besturende direkteur van Turnkey365, sê in ’n verklaring dat regs- en siviele stappe begin is om die groep uit die eiendom gesit te kry en alle kostes te verhaal.

“Ons het simpatie met hul saak en ondersteun die reg om binne die wet te betoog. Ons is egter van plan om ons mandaat na te kom en die wettige regte van die huiseienaar te beskerm.”

Meer oor:  Kampsbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.