Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Queer’-groep beset huis in Kampsbaai

’n Groep uitgesproke “queer”-aktiviste in Kaapstad beset tans ’n luukse gastehuis op Kampsbaai se strandfront nadat hulle dit voorheen vir drie dae gehuur het.

Die sewe kunstenaars en aktiviste van die Queer Radical Feminist Activist Collective beset die huis onder die vaandel #WeSeeYou. Die huis met sy ses slaapkamers, swembad en borrelbad, is op die gewilde vakansieverblyf-webwerf Airbnb gelys, en word teen R4 000 per aand verhuur.

Die groep – Kelly-Eve Koopman, Wewe Ngidi, Sarah Summers, Xena Scullard, Lethabo Hanong, Vatheka Halile en Devaarne Muller – het Vrydagmiddag ingetrek en het die eienaars Maandag ingelig dat hulle nie gaan uittrek nie.

Van die groeplede buite die huis in Kampsbaai. Foto: Verskaf

Hulle hoop om geruime tyd in die luukse huis te bly om die kollig op grond- en behuisingskwessies te plaas.

“Ons weet Suid-Afrika is een van die ongelykste lande ter wêreld en dat ’n belaglik klein persentasie mense wat skatryk is, ’n huis in Kampsbaai kan bekostig om as beleggings aan te hou om ’n inkomste te genereer, maar dikwels staan hierdie huise vir lang tye dolleeg,” sê Koopman.

Hulle het die huis vir drie nagte gehuur, maar het nou reeds twee dae daar deurgebring sonder dat hulle betaal het.

“Ek is tans besig om ’n gastehuis met ’n groep kragtige swart en POC- (“persons of colour”) kunstenaars uit verskillende agtergronde te beset. So ja, van vandag af sal ek beskryf word as ’n sogenaamde grondbesetter.

“Die stap word al ’n paar maande lank beplan. Ek is bereid om betrokke te raak, maar ek is nie bereid om geboelie te word nie. Ek is bang, maar as kunstenaar en aktivis voel ek dit is wat ek moet doen,” sê Koopman.

Sy moet dit doen “as die dogter van ’n ma van die struggle, wat ’n redelike mate van toegang en gehuurde bevoorregting geniet”.

Van die groeplede, Sarah Summers, Xena Scullard, Lethabo Hanong en Vatheka Halile, buite die huis in Kampsbaai. Foto: Verskaf

As “iemand met ’n platform en wat anders behandel sal word as ander besetters in die stad en die land vanweë my ligte vel en die manier waarop ek Engels praat en my banksaldo”, hoop sy dat die mag van haar woorde deur sommige van die “kompleksiteite en vrese” sal sny.

“Sommige van die gedagtes is dat dit miskien gek is, dat ons miskien verkeerd is. Maar ek kan nie saamleef met ’n stelsel wat so onregverdig is, in so ’n gewelddadige land en ’n stad wat so vernietigend die waardigheid, veiligheid en welstand van so baie mense minag nie.”

Sy sê hoewel die land nou op vlak 1 is, voel sy hierdie oomblik is ’n keerpunt.

Koopman sê sy verwerp die idee dat mense wat huise en ’n toevlug soek as “indringers” of “opportuniste” beskryf word.

Een van die besetters, Vatheka Halile, staan buite die huis in Kampsbaai. Foto: Wewe Ngidi

“Ek glo sistemiese ontwrigting en ingryping is noodsaaklik. Ek glo dat queer-mense en vroue, gesinne en kinders veilige en mooi woongebiede verdien. Ons kan nie genees sonder dat mense grond het nie. Ons het genoeg grond, ons het genoeg infrastruktuur.”

Xena Sullard skryf op Facebook: “Vandag word ek ’n ‘grondgryper’. Ek is tans deel van ’n Queer Feminist Artivist Collective wat ’n gastehuis in Kampsbaai bewoon. Ons glo dat grondbesetting ’n noodsaaklike hulpmiddel is vir mense om toegang tot geregtigheid en grondregte te kry. Ons kan nie net op die staat staatmaak nie en ons kan nie vertrou op die gewete van die 0,05% wat prima grond besit waartoe ons nooit toegang sal hê nie.”

Sullard sê grondbesetting is vir haar ’n manier waarop die nasie sy eie genesing kan begin skep, terwyl hy terselfdertyd die stelsel in sy peetjie stuur “wat dink dat mense se lewens nie saak maak nie”.

Die groep sê daar is verskeie organisasies en individue wat ondersteuning en solidariteit bied vir die aksie, insluitend die Khayelitsha CAN-groep.

Onderhandelinge met die huiseienaar duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.