Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Qwaqwa: Geweld breek uit ná meisie (8) se verdrinking

Wydverspreide geweld het Maandag in Qwaqwa uitgebreek nadat Monisa Mbele (8) Vrydag hier verdrink het.

Die gemeenskap verkwalik die plaaslike Maluti-a-Phofung-munisipaliteit vir Monisa se dood omdat sy en haar broer water uit ’n rivier gaan skep het toe sy verdrink het.

Die Mbele-gesin woon in Mandelapark, Qwaqwa.

Lede van die gemeenskap by die rivier waar Monisa Mbele (8) verdrink het. Foto: Verskaf

Inwoners hier het al maande lank nie lopende water nie en kragonderbrekings en ander diensleweringsprobleme kom gereeld voor.

’n Gerug wat die ronde doen dat die polisie iemand in hegtenis geneem het wat gehelp het om die lyk uit die water te haal, het die gemoedere verder laat opvlam.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê dié bewering is onwaar en kwaadwillig; daar is geensins opgetree teen die mense wat die polisie gehelp het nie.

Makhele sê die polisie se eenheid vir openbare orde is in die gebied ontplooi.

Die waterbottels en emmers waarmee twee kinders wou gaan water skep, was Vrydag stille getuienis van die tragedie wat hom in Qwaqwa afgespeel het. Monisa Mbele (8) het hier verdrink.Foto: Verskaf

Inligting dat bande gebrand, paaie versper en winkels geplunder word, is op sosiale media versprei om mense te waarsku om die gebied te vermy.

’n Kennisgewing is vroeër uitgestuur waarin inwoners gemaan is om nie Maandag werk toe te gaan nie, en waarin taxi’s verbied is om mense te vervoer. Hiermee saam is ’n versoek gerig dat betogers nie winkels, veral dié wat gesluit is, moet plunder nie.

Volgens inligting word paaie by Bluegum Bosch, Mandelapark en Makeneng deur sowat 800 mense versper. Emile de Beer, ’n vulstasie-eienaar, sê talle ondernemings is om veiligheidsredes gesluit.

Gemeenskapsleiers het Maandagmiddag ’n memorandum aan munisipale amptenare oorhandig waarin hulle sê die protesoptrede sal voortduur totdat aan hul eise voldoen is.

Hulle eis dat die burgemeester, Masechaba Lakaje, onmiddellik bedank, dat die nasionale regering in die gebied ingryp en dat daar onmiddellik van die watertenkers ontslae geraak word.

Die ontwrigting wat die waterprobleme by skole in die gebied veroorsaak, moet ook onmiddellik aandag geniet.

Meer oor:  Maluti-A-Phofung-Munisipaliteit  |  Qwaqwa  |  Gemeenskap  |  Water  |  Verdrink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.