Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
R100 toe al wat oorbly van enorme fooitjie

’n Foto van die strokie wat wys dat die kelnerin R19 621 as fooitjie ontvang het. Foto: Verskaf

'n Vrou van Wellington in die Wes-Kaap het Saterdagaand die grootste fooitjie van haar lewe ontvang by die kroeg in die Paarl waar sy al vir drie jaar werk.

’n Man, wat sy nog nooit voorheen gesien het nie, het aan die einde van die aand vir Lisa* (23) sy kredietkaart gegee en ’n fooitjie van R19 621 op die rekening van R379 betaal.

Toe dit egter lig word Sondagoggend, en die man se vrou van die fooitjie uitgevind het, het sy die kroeg, Breezy Hill op die R45-pad buite die Paarl, gebel om die geld terug te eis, “omdat hulle dit nodig het”.

“Hy het dit Saterdagaand laat klink of R20 000 kleingeld vir hom is,” sê Lisa.

“Ek sal nooit geld van iemand vat as ek weet hy het ’n vrou of kinders om te onderhou en hulle sukkel nie.”

Lisa sê die man, in sy 30’s, wou aanvanklik R1 miljoen aan haar oorbetaal.

“Hy het aan die begin vir my gesê, druk R1 miljoen by die masjientjie in, dit sal deurgaan,” vertel Lisa. “Ek het vir hom gesê dit is malligheid, ek gaan dit nooit doen nie. Hy sê toe oukei, dan R100 000.”

Lisa sê die man se vriende het ook probeer keer dat hy te veel geld uitgee, hoewel hy vir die meeste van hulle se drankies ook betaal het.

Hy het aan die begin vir my gesê, druk R1 miljoen by die masjientjie in, dit sal deurgaan.

Sy sê die man was beslis nie dronk nie omdat hy net twee lang glase, elkeen met ’n enkel-whiskey, gedrink het.

“Ek het R1 000 ingesit op die masjientjie, maar toe gryp hy dit en druk nóg ’n nul by. Kort daarna het hy wéér R10 000 inbetaal vir dieselfde rekening,” sê sy.

“Ek het seker gemaak hy weet hoeveel geld dit is – ek het tot vir hom die strokie gegee en hy het dit in sy beursie gesit. Hy het oor en oor gesê hy wil die geld vir my gee, en hy weet wat hy doen. Ek het hom geglo, want hy het gepraat van hoeveel mense hy help en hoeveel plase hy het.”

Volgens Lisa het Andy Parr, eienaar van Breezy Hill, die man se vrou tegemoetgekom toe sy vir die geld terugvra, en die geld terugbetaal.

Parr kon dit doen aangesien die kroeg nog nie die geld in sy bankrekening gehad het nie, en Lisa dit nog nie kon neem nie.

“Die vrou het gesê ek kan maar R100 van die tip kry,” sê Lisa.

Die man se kroegrekening is Sondagoggend om 02:53 gefinaliseer, en hy het ’n totale bedrag van R20 000 betaal met sy kredietkaart, hoewel sy rekening net R379 beloop het. Op die strokie kan gesien word dat hy verskeie glase alkohol bestel het, onder meer brandewyn, whiskey en ’n Jägermeister-kelkie, wat hy volgens Lisa met sy twee vriende gedeel het. Ook ’n botteltjie water is op die rekening.

Parr het Dinsdag gesê: “Dit is ’n kroeg. Mense doen soms dom dinge in ’n kroeg.”

Hy wou nie verder kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie.

* Lisa is ’n skuilnaam.

Meer oor:  Paarl  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.