Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
R18 miljoen se sousvlugte waarvoor jy betaal

Staatskapers, trawante van die Guptas, lakeie van oudpres. Jacob Zuma, voormalige apartheidsministers en selfs Des van Rooyen, wat in 2015 vir net drie dae minister van finansies was, vlieg in weelde op belastinggeld jare nadat hulle uit hul poste as minister of adjunkminister getree het of selfs ontslaan is.

Die vlugte vir afgetrede kabinetslede en hul gades – alles in besigheidsklas – het die parlement die afgelope twee jaar R18,8 miljoen gekos, het die parlement die afgelope week aan die Demokratiese Alliansie (DA) onthul.

Die DA het ’n jaar lank ba­klei om die inligting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) te bekom.

Rapport het die parlementêre antwoord onder oë gehad. Dit dui op asemrowende hoë rekeninge vir vliegkaartjies vir dosyne individue wat betrek word by die stelselmatige aftakeling van die demokratiese staat onder Zuma.

Voormalige Zuma-era-ministers en -adjunkministers wat saam met hul gades die land “gratis” deurkruis, sluit in:

Ben Martins, voormalige minister van vervoer (tot Julie 2013) en energie (tot Mei 2014), wat onder meer daarvan beskuldig is dat hy die Gupta-broers gehelp het om by Eskom-sake in te meng. Vliegkaartjies van R685 657 is tussen 1 April 2018 en 31 Maart 2020 vir hom en sy vrou deur die parlement se reisburo bespreek en betaal.

Tina Joemat-Pettersson, wat tot Maart 2017 minister was van energie en met wie se hulp Zuma probeer het om ’n peperduur kernkragooreenkoms met Rusland te sluit. Haar rekening was R443 850 die afgelope twee jaar.

Mzwandile Masina, burgemeester van die Ekurhuleni-metro en ’n leiersfiguur in die ANC se radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie, was van Mei 2014 tot Augustus 2016 adjunkminister van handel en nywerheid. Hy en sy vrou het vliegkaartjies van R299 818 gebruik.

Des van Rooyen: R242 015

Des van Rooyen, wat die bynaam “Weekend Special” gekry het nadat hy Nhlanhla Nene kortstondig as minister van finansies opgevolg het, se vliegrekening die afgelope twee jaar is R242 015.

Van Rooyen is deur Pravin Gordhan vervang en het tot 27 Februarie 2018 as minister van samewerkende regering en tradisionele sake gedien.

Nathi Nhleko, minister van polisie onder Zuma, se vliegkaartjies het die belastingbetaler R363 133 gekos.

Dit was ’n natgeswete Nhleko wat in 2015 op die maat van Luciano Pavarotti se weergawe van O Sole Mio aan die nasie probeer vertel het dat ’n swembad by Zuma se Nkandla-woning toe al die tyd ’n “brandpoel” was.

Dina Pule, oudminister van kommunikasie, se rekening is R150 670. Sy is in 2013 deur Zuma afgedank nadat ’n verslag van die openbare beskermer haar by korrupsie betrek het;

Malusi Gigaba se rekening is R200 413.

Hy het in 2018 as minister bedank nadat regters van die konstitusionele hof in ’n uitspraak gesê het hy het vir die hof gelieg.

Faith Muthambi: R267 668

Faith Muthambi, minister van staatsdiens en administrasie sowel as van kommunikasie, se rekening is R267 668. Sy het die weg gebaan vir die vernietigingswerk van Hlaudi Motsoeneng by die SAUK; en

David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid en energie, se rekening is R349 289.

Mahlobo, ’n stoere Zuma-ondersteuner, is in 2018 in ’n verslag van pres. Cyril Ramaphosa se hoëvlakpaneel daarvan beskuldig dat hy die “burgerlike intelligensiegemeenskap verander het in ’n private hulpbron om die politieke en persoonlike belange van bepaalde individue te dien”.

Voormalige kabinetslede se vlugte word deur die parlement betaal kragtens die bepaling van die ministeriële handboek, waarvan die jongste weergawe in Desember 2019 deur Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, bekend gestel is.

Luidens die handboek is oudministers geregtig op 48 plaaslike vliegkaartjies in besigheidsklas per jaar en hul eggenote op 24.

Voormalige adjunkministers is geregtig op 36 plaaslike vliegkaartjies in besigheidsklas per jaar en hul gades op 18.

Weduwees en wewenaars van voormalige ministers en adjunkministers is geregtig op 12 vliegkaartjies in besigheidsklas elke jaar.

Oudkabinetslede doen aansoek om vliegkaartjies deur die parlementêre reisagentskap, wat dit koop en uitreik.

Mcebisi Jonas: R378 290

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, het ’n jaar baklei om die bedrae by die parlement te kry. Schreiber beskryf hierdie “luukse vlugte” as “immoreel, korrup en ’n vermorsing van geld in 'n tyd wanneer al hoe meer Suid-Afrikaners in armoede gedompel word”.

Hy bevraagteken ook die wettigheid daarvan. “Nie net word die parlement geforseer om vir voormalige kabinetslede te betaal nie, maar hierdie ooreenkoms skend ook die beginsel van die skeiding van magte tussen die wetgewer en die uitvoerende gesag. Behalwe vir die ministeriële handboek is daar geen wet wat hierdie vermorsing goedkeur nie.”

Schreiber het aan die nuwe aangestelde ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, geskryf om te vra dat sy ondersoek instel na of die parlement se betaling vir die vlugte onreëlmatige uitgawes is.

Die OG se kantoor het bevestig die versoek word oorweeg.

Rapport het die nege oud-ANC-kabinetslede wat hierbo genoem word, gevra of die bedrae korrek is en of hulle ’n ondersoek van die OG sal steun.

Mzwandile Masina: R299 818

Slegs Masina het geantwoord. “Gaan lees die ministeriële handboek.”

Dit is nie net berugte oudministers wat rondrits nie.

Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese beleid en ’n voormalige adjunkminister, het vlugte van R240 442 benut.

Derek Hanekom, oudminister van toerisme, se vlugte het R114 432 gekos; dié van Trevor Manuel, oudminister van finansies, R312 135 en dié van Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, R378 290.

Ook lede van ander partye wat in die kabinet gedien het, trek steeds voordeel uit die  reëling, insluitend ministers uit die apartheidsera soos  Barend du Plessis (R125 366), Adriaan Vlok (R105 999) en Roelf Meyer (R224 966).

Meyer, ’n NP-minister van verdediging en ná 1994 minister van grondwetlike ontwikkeling, het Saterdag gesê hy betwis nie die bedrae nie al kan hy dit nie dadelik nagaan nie.

Hy beskou die aankoopproses vir die vliegkaartjies as “gesond”.Meyer sê die meeste van sy vlugte was vir die werk wat hy doen vir die openbare-private-groei-inisiatief (PPGI), wat al miljarde rande se investering vir die regering bewerkstellig het. Hy sê egter hy sal ’n ondersoek van die OG na die kaartjieproses verwelkom.

Dr. Pieter Mulder: R144 795

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus en adjunkminister van landbou, bosbou en visserye van 2009 tot 2014, het oor die laaste twee jaar ook R144 795 se vliegkaartjies benut.

Hy het Saterdag gesê dit “is ’n ou debat waaroor al in die verlede baie geargumenteer is”. “Omdat daar geldtekorte is, is die debat weer aan die gang as deel van die parlementslede se debat oor hul aftreevoordele. Almal sal dit wel verwelkom as daar duidelikheid kom.

“In die praktyk gaan dit beteken dat die huidige begrote geld tussen die parlement en die verskillende staatsdepartemente rondgeskuif gaan word. Die parlement hanteer dan die ritte waarop jy geregtig is as oudparlementslid en elke staatsdepartement hanteer sy spesifieke afgetrede ministers se ritte vir die verskillende tydperke wat elkeen minister was. Ek is nie oortuig dat die staat gaan bespaar met ’n meer ingewikkelde en gedesentraliseerde stelsel nie.

“Die besparingsdebat gaan eerder oor die getal kaartjies as oor of die uitvoerende of wetgewende gesag die verantwoordelikheid vir die vliegkaartjies moet dra.”

Mosiuoa Le­kota, Cope-leier en oudminister van verdediging (R74 777) en dr. Mosibudi Mangena, voormalige Azapo-leier en oudminister van wetenskap en tegnologie, het vlugte ter waarde van R344 231 benut.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.