Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
R350 m. geëis vir SA mans?

Twee Suid-Afrikaners wat in Noord-Afrika as gyselaars geneem is, lewe albei en word iewers in die Sahel-gebied deur twee afsonderlike ekstremistiese groepe aangehou.

Gerco van Deventer en sy vrou, Shereen. Foto: Facebook

Die groepe, wat die twee Suid-Afrikaners en nog ses gyselaars aanhou, eis ’n losprys van R356 miljoen vir twee van die gyselaars – maar dit is nie duidelik vir watter twee nie. Sou dié bedrag betaal word, kan dit die moontlike vrylating van die ander bespoedig. Vir nog vyf van die gyselaars eis die groepe motiveringsbriewe om hul omstandighede te bepleit.

Gerco van Deventer (43), ’n paramedikus van Swellendam, het vir ’n Turkse maatskappy gewerk wat ’n kragstasie in die woestynagtige suide van Libië bou. Op Vrydag 3 November 2017 is hy en drie Turkse mans ontvoer toe hulle van die lughawe na Ubari, waar die kragstasie gebou word, gery het.

Christo Bothma (53) het in Burkina Faso naby die grens met Mali by die Inata-myn gewerk. Hy is saam met die eienaar van die myn se seun en hul plaaslike motorbestuurder in September verlede jaar ontvoer toe hulle een Sondagoggend van Inata na die dorpie Djiba gery het.

‘Geen geld vir ’n losprys nie.’

Inata is sowat 200 km noord van die hoofstad, Ouagadougou, in die land se “rooi gebied” waar terreuraanvalle deur Moslem-ekstremiste gereeld voorkom. Die vermoede was destyds dat die groep oor die grens na Mali of omstreke geneem is.

Dr. Imtiaz Sooliman van die Suid-Afrikaanse noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers het aan Rapport gesê sy onderhandelaar is pas terug nadat hy in die buiteland met ’n tussenganger oor die mans se lot vergader het. Geen besonderhede is bekend oor presies waar die mans aangehou word nie.

Die Sahel is ’n streek in Noord-Afrika wat insluit Mauritanië, Mali, Niger, Burkina Faso, Tsjad en Soedan.

Volgens Sooliman het sy onderhandelaar ’n video bekom waarin Van Deventer in Arabies om hulp vra om na Suid-Afrika terug te keer. Van Bothma is daar geen video nie. Dis wel bevestig dat hy lewe. In ’n opvolg-ontmoeting het dieselfde tussenganger gesê Van Deventer se familie moet ’n aanbod maak vir sy vrylating.

Christo Bothma en sy vrou, Amanda. Foto: Facebook

“Omdat ons nie betaal vir die vrylatings nie, probeer ons tans alternatiewe om die groepe om te haal om hulle vry te laat. Daar is geen geld vir ’n losprys nie, wat nog te sê vir een van dié omvang. Dit kan beteken dat die onderhandelings nog lank kan voortduur,” het Sooliman gesê.

“Die tussenganger het ’n volgende video belowe en ’n Engelse weergawe, maar daarvoor wil hulle meer as R4,2 miljoen hê. Ons lei af die groepe wil graag hê die video’s moet gepubliseer word en volgens hulle kan dit die deure oopmaak vir die ander gyselaars.”

Van Deventer en sy vrou, Shereen, was maar twee jaar getroud toe hy na Libië gegaan het.

As ’n oudparamedikus van 7 Mediese Bataljongroep in die weermag, het haar man die laaste paar jaar hoofsaaklik in die buiteland gewerk.

“Die eerste ses maande was moeilik en ek het myself maar net wysgemaak dat hy weer weg is om te gaan werk en net nog nie teruggekom het nie. Maar ek moes inspring en werk kry, want ek en my seun was skielik sonder ’n broodwinner. ’n Mens slaap nie; jy eet nie en uiteraard is dit ’n sensitiewe situasie wat jy nie vir almal kan vertel nie.

“Dis ’n alleenpad, maar gelukkig het Gerco my goed voorberei vir wat kan gebeur. Nou gryp jy goeie oomblikke aan en raak in stilte hartseer. Die video is goeie nuus, maar sy situasie is steeds hopeloos, want ons het nie geld vir ’n losprys nie.”

Van Deventer se pa, Jan, sê die familie het lank stilgebly, soos wat die departement van internasionale betrekkinge en samewerking versoek het.

“Ons dilemma was dat ons begin dink het: wat as Gerco terugkom en vir ons vra wat ons gedoen het om sy vrylating te probeer bewerkstellig. Dit is toe dat ons vir dr. Sooliman gekontak het,” het hy in Pretoria aan Rapport gesê.

Bothma se familie wat in Potchefstroom bly en sy dogters uit ’n vorige huwelik het luidens vroeëre berigte via ’n ander onderhandelaar in Burkina Faso selfs ’n brief aan dié land se pres. Roch Marc Christian Kaboré geskryf om vir ingryping te pleit.

Die departement het vroeër gesê Suid-Afrikaanse diplomate werk saam met die wetstoepassingsagentskappe in dié land.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.