Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
R44 miljoen vir kwart van buffel
‘n 25%-aandeel in die buffelbul Horison is Saterdagaand vir ‘n allemintige R44 miljoen opgeveil. Foto: Herman Verwey

’n Kwartaandeel in die buffelbul met die grootste horings ter wêreld is Saterdagaand vir R44 miljoen opgeveil.

Dié sogenaamde “superbuffel”, genaamd Horison, het ’n horingwydte van 55 duim (1,397 meter) en is die verstommende bedrag van R176 miljoen werd. Hy weeg meer as ’n ton.

Die bod is by die vooraanstaande wildboer Piet du Toit se veiling op sy spogplaas naby Rustenburg op Peter Bellingham, van Mookgophong (Naboomspruit), toegestaan.

“Ek voel wonderlik,” het ’n oorstelpte Bellingham na die veiling gesê en van oor tot oor geglimlag.

Hy is ’n gerekende wildboer en bekende in wildteelkringe.

“Dit was ’n fantastiese veiling met die soort teeldiere van gehalte waarvoor mense bereid is om groot geld te betaal.”

Du Toit het Horison in 2012 in vennootskap met Norman Adami, voormalige voorsitter van SABMiller Beverages, en Ben Botha van Rustenburg vir R26 miljoen gekoop.

Slegs vier jaar later is dié dier se waarde meer as ses keer soveel.

Die vorige rekordprys vir ’n buffelbul was R40 miljoen.

Peter Bellingham, bekende wildboer, word gelukgewens nadat die bod op ‘n 25%-aandeel in die buffelbul Horison op hom toegestaan is. Foto: Herman Verwey
Die veiling is op die wildboer Piet du Toit se plaas naby Rustenburg gehou. Foto: Herman Verwey
Sowat 4 000 mense, waaronder Bakkies Botha, het die veiling bygewoon. Die afslaer was die bekende Brandon Lear. Foto: Herman Verwey

“Dit klink na onrealistiese groei,” het Bellingham gesê. “Maar jy sal nooit weer só ’n buffel kry nie. Sy horings is die grootste wat nog ooit aangeteken is.”

Du Toit het gesê daar is in 150 jaar nog nooit met só ’n buffel geteel nie. “Mense besef nie hoe skaars hierdie tipe superbuffelbul is nie.”

Du Toit en Jacques Malan, Horison se teler, was dit eens oor hul tevredenheid dat die aandeel na “ ’n ou soos Peter Bellingham kan gaan”.

“Hy is iemand wat baie hard belê het in buffels,” het Du Toit gesê. “Ek hoop dit kan vir hom baie vrugte afwerp.”

Bellingham het verlede jaar ná Du Toit se veiling gesê hy het in 2014 R230 miljoen aan diere spandeer.

Du Toit reken Horison sal lag-lag R1 miljard se nageslag kan teel.

“Ons gaan 40 koeie, tien vir elke belegger, by hom sit,” het Bellingham gesê.

Du Toit wil hê Horison moet op sy plaas bly loop. “Ek het vir Peter gesê ek gaan hom nooit weer pyl nie, want hy geniet dit so daar tussen die groot apiesdorings en teen die rivier.”

Slegs teelbuffels van die hoogste gehalte, swartwitpense en skaars, eksotiese wildsoorte soos goue wildebeeste en koffiekleurige springbokke, het Saterdag onder die hamer gekom.

Volgens Wildswinkel, die organiseerders van die veiling, was die geraamde omset R230 miljoen, effens minder as verlede jaar se R266 miljoen.

Die meeste van die diere wat onder die hamer gekom het, was Du Toit s’n.

Verder is diere van die bekende wildboere Stephan Naudé, Jaco Naudé en Beyers Gerber, asook enkele diere van sowat agt gasverkopers, ook opgeveil.

Sowat 4 000 mense, waaronder bekendes soos Bakkies Botha en Heyneke Meyer, onderskeidelik voormalige Springbok-slot en -afrigter, het die veiling bygewoon.

Al die kos en drank was gratis.

“Piet het die bedryf na ’n nuwe level gevat,” het Botha gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.