Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Raaisel oor dogter se dood nog nie opgelos

Die vrae oor sy kind se dood is ’n wond wat nie toegelaat word om te genees nie, sê ’n sakeman van Oudtshoorn wie se dogter verlede jaar ná haar matriekafskeid in ’n motorongeluk dood is.

Morné Nortier en Marilizé op sy troue verlede jaar. Foto: Karoo Photography

Dinsdag sal dit presies ’n jaar wees dat die 18-jarige Marilizé Nortier dood is, maar die direkteur van openbare vervolging (DOV) het nog geen besluit gemaak oor wie vervolg moet word nie.

Marilizé is dood toe die BMW waarin sy ’n passasier was om 04:00 die oggend die pad tussen Oudtshoorn en die Kango-grotte verlaat, sowat 50 m deur oop grond geploeg en in ’n kanaal beland het.

Die wrak het op die linkersy in die water gelê en volgens die lykskouing het Marilizé veelvuldige beserings opgedoen en verdrink. Sy was nog vasgegespe.

Die BMW nadat dit oopgesny is om die gestorwene te bevry. Foto: Die Hoorn

Die 22-jarige bestuurder, Sidney Berry, kon uit die wrak klim en was volgens omstanders wat hom op die toneel aangetref het, baie deurmekaar. Hy het glo sy ma, Karin, wat in George woon, gebel. Sy het hom kom haal en na die Mediclinic George geneem.

Marilizé sou die aand voor haar dood by ’n vriendin oorslaap. Sy het toe haar pa, Morné Nortier, wat by ’n sportgeleentheid was, gebel en gesê sy gaan haar klere by die huis haal.

Rapport verneem dat Marilizé en Berry glo die vorige aand saam met vriende by ’n bekende restaurant-klub gekuier het.

Nortier sê die ondersoek is blykbaar reeds aan die begin van die jaar afgehandel. Volgens hom het ’n speurder daarna ’n stempos aan hom gestuur waarin hy sê dat die plaaslike streeksaanklaer nie bereid is om self ’n besluit oor moontlike vervolging te neem nie omdat sy dogter en Marilizé bevriend was. Hy het dus die dossier vir ’n besluit na die direkteur van openbare vervolging in Kaapstad verwys.

Sidney Berry

Volgens ’n familielid is daar tergende vrae oor die tragiese insident: onder meer of enige bloedmonsters van die bestuurder geneem is en ook wat die twee daardie tyd van die oggend op die Kango-pad gemaak het.

Dié familielid het ’n Facebook-blad, Truth4Marelize, begin – om inligting in te win oor onder meer die bewegings van Marilizé en ’n groep vriende nadat hulle die kuierplek kort ná 02:00 verlaat het.

Marilizé was ’n matrikulant aan Langenhoven Gimnasium op die dorp. Nortier is ’n oudonderwyser van die skool.

Hy sê dit wil voorkom asof die polisie die insident as ’n “gewone saak” hanteer, wat dit volgens hom nie is nie.

Hy sê nóg Berry nóg sy familie het al uitgereik na hom. “Sy lewe gaan aan, myne staan stil,” sê Nortier.

“Ek los die saak in die polisie se hande en vertrou vordering kom spoedig, maar as niks gebeur nie, sal ek dit self verder vat.”

Berry en sy ma kon nie vir kommentaar bereik word nie. Rapport verneem Berry se regsverteenwoordiger het hom geadviseer om niks oor die voorval te sê nie.

’n Provinsiale polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, sê die dossier is nog nie van die nasionale vervolgingsgesag ontvang nie. Die ondersoek is afgehandel en klagte van strafbare manslag, dronkbestuur en dwarsboming van die gereg word ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.