Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Paartjie se branddood 'n raaisel – nes in Wellington
Nicola Fox
Nicola Fox (43), se ma, Lynne Marriott, het dié foto van Nicola en ’n ander familielid ná Nicola se dood verlede week in ’n brand in Pringlebaai op haar Facebookprofiel gelaai. Foto: Facebook

Die raaiselagtige omstandighede waarin ’n paartjie van Pringlebaai in die Overstrand verlede Sondag in ’n brand gesterf het, het die afgelope week net soveel vrae gelaat soos die voorval waarin Sunita en Jacques van Dyk van Wellington in Mei 2017 dood is.

Nicola Fox (43) en Peter Brin (40), haar aan-en-af kêrel van die afgelope vyf jaar, se lyke en dié van sy Maltese poedel Babbies is verlede Sondag in die vroeë oggendure in die puin van Brin se houthuis gekry.

Die Van Dyk-egpaar het in Mei 2017 in hul huis op ’n plaas naby Wellington onder raaiselagtige omstandighede verkool. Hulle was in die badkamer van die huis en Sunita was in ’n bad vol water terwyl Jacques op die vloer gelê het. Die polisie het gesê geen gemene spel is vermoed nie.

’n Vriendin na aan Fox glo egter nie dat die brand verlede Sondag in Pringlebaai op ’n natuurlike wyse uitgebreek het nie.

Die vriendin het Sondag gesê dat Brin gereeld vir Fox in die vyf jaar wat hulle in ’n verhouding was, aangerand het. Sy vermoed ook dat Fox die oggend van Sondag 2 Februarie weer aangerand is.

Peter Brin, wat verlede Saterdag saam met sy vriending Nicola Fox in ’n brand in Pringlebaai gesterf het. Foto: Facebook

Haar vriendin sê dat Fox se lyk glo in ’n fetale-posisie op die vloer van Brin se slaapkamer gevind is.

Sy kon nie sê waar Brin se lyk gevind is nie.

Volgens die vriendin was die verhouding “giftig”. “Hy het haar geskop, geslaan en lelik gevloek en geskel.”

Volgens haar het Brin al ook vir Fox by ’n glasdeur uitgeslaan.

Sy sê ook dat hy vir Fox op Kersdag uitgesit het. “Hoekom sy na hom terug is, weet ek nie.”

Die vriendin het ook foto’s van Fox met duidelike beserings aan haar gesig aangestuur.

Brin se broer, Douglas, het egter beweringe dat sy broer vir Fox aangerand het, ontken.

Dié blou-oog het Nicola Fox gekry glo nadat sy in 2018 deur Peter Brin aangerand is. Foto: Verskaf
nicola fox
Die merke op Nicola Fox se gesig was glo ook nadat sy aangerand is. Foto: Verskaf

Douglas beweer dat Fox haarself seergemaak het. “Sy het gesuip en was op pille en as sy op die goed was, was sy buite haarself en het sy nie geweet wat sy doen of waar sy is nie.”

Volgens hom het sy broer nooit sy hande vir enige vrou, insluitend Fox gelig nie. “Sy het haarself seergemaak. Sy het al twee vensters by sy huis stukkend geslaan en haar daarmee gesny,” sê hy.

Fox se ma, Lynne Marriott, het Sondag nie gereageer nie op vrae of sy dalk weet of Brin haar dogter al voorheen aangerand het.

Beide Marriott en Douglas sê hulle wag op die polisie- en forensiese ondersoek om te sê wat die oorsaak van die brand en die twee oorledenes se dood was.

Volgens Marriott is daar nog geen begrafnisreëlings vir Fox getref nie.

Brin word Saterdag uit die Pringle Bay United Church in Pringlebaai begrawe.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, sê dossiere is geopen vir ’n geregtelike doodsondersoek en vir brandstigting. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

Meer oor:  Pringlebaai  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.