Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rachel, Siya Kolisi groet Stormers met ’n swaar hart
Siya Kolisi omhels sy vrou en kind in ’n Stormers-trui. Foto: Instagram/Rachel Kolisi

Die Springbokkaptein Siya Kolisi se vrou, Rachel, sê haar hart is swaar en sy kan nie glo dat hy die Stormers gaan verruil vir die Haaie nie.

“Ek is ’n Stormer sedert ek my liefde vir die spel ontdek het,” skryf Rachel op Instagram. “Eens kon ek net die R50-kaartjies bekostig, en later het ek die wedstryde in spoggerige losies gekyk. My kinders het ná elke wedstryd op die geliefde Nuweland-sportveld gehardloop.”

Sy sê sy sal elke besering, nederlaag, oorwinning, opoffering, herinnering, traan en glimlag koester.

Siya Kolisi met die bal. Foto: Argief
Ek is ’n Stormer sedert ek my liefde vir die spel ontdek het.

Vroeër is berig die Westelike Provinsie en Haaie het glo op ’n oordragtarief van sowat R1 miljoen vir die Springbok-kaptein ooreengekom.

Kolisi was die afgelope 11 jaar ’n Stormers-speler en luidens ’n verklaring deur WP Rugby sou sy kontrak aan die einde van Oktober vanjaar uitloop. WP Rugby het glo “alles moontlik gedoen” om Kolisi te behou, maar die unie het uiteindelik die oordragtarief aanvaar.

“Hy beëindig sy loopbaan by WP Rugby as die speler wat die tweede meeste (118) wedstryde vir die Stormers gespeel het. Die legendariese Schalk Burger is die enigste speler wat meer (123) wedstryde gespeel het,” lui die verklaring.

Kolisi sê: “Ek wil almal by WP Rugby bedank vir die ongelooflike tyd in my lewe waarin ek as rugbyspeler en mens gegroei het.

“Al die afrigters, die bestuur en my spanmaats wat die afgelope 11 jaar so ’n groot invloed op my gehad het, en veral die DHL Stormers en inwoners van Kaapstad wat my tyd saam met die unie so spesiaal gemaak het. Dit was ’n voorreg om hul ondersteuning te ervaar,” het hy gesê.

Rachel sê: “Dit was vir ons persoonlik ’n moeilike seisoen omdat ons baie groot, moeilike besluite moes neem, maar verandering is altyd onvermydelik.

“Siya se karakter is soos niemand anders wat ek al geken het nie. Hy het vriendelik en respekvol gebly in oomblikke waar hy geen rede gehad het om dit te doen nie.

“Hy het hierdie span op meer maniere gelei as wat sommige ooit sal weet. Hy was ’n mentor en luisteraar, hy het ’n weg gebaan vir vele wat sal volg. Ek kan nie in woorde uitdruk hoe trots ek op hom is nie.”

Sy sê die Stormers het nie net mooi herinneringe gebring nie, maar het soos vriende en familie geword. Dankie Jesus.”

Sy het verskeie foto’s by haar plasing gebruik van Siya op die veld in sy Stormers-rugbytrui, saam met haar en die kinders, ander familielede en vriende en medespelers.

Dit is nie bekend of die gesin sal verhuis nie. Rachel kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Rachel Kolisi  |  Siya Kolisi  |  Rugby  |  Stormers  |  Haai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.