Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ralph is dankbaar vir ouma Bettie
Die Kokkedoor deelnemer Ralph Farmer (regs) saam met sy verloofde Martin Boyder wat hom ingeskryf het vir die derde seisoen van die kookkompetisie wat tans op kykNET te sien is.Foto: Deon Raath

Alles wat die Kokkedoor 3-deelnemer Ralph Farmer van kosmaak weet, het hy by sy ouma Bettie geleer.

Ralph se ouma Bettie, wat in die Paarl bly, het hom al as sesjarige geleer kook.Foto: Verskaf

Ten spyte daarvan dat Farmer, anders as baie van die ander deelnemers, geen kookopleiding het nie, is hy en sy spanmaat, Pieter Malan, ná Donderdag se episode een van die laaste drie spanne wat dit “uitkook” vir die kroon. Die Kokkedoor-wenspan van die realiteits-kookkompetisie wat tans op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien is, word op 10 Oktober gekies.

Farmer sê hy het nooit gedink hy gaan dit so ver maak in die kompetisie nie.

“Ek het nie die reëls van die kompetisie mooi gelees voordat ek gegaan het nie. Ek kom toe daar in Kaapstad aan (waar dit verfilm is) met net een sak vol klere en die ander deelnemers het tasse vol kookboeke . . . Dis toe dat ek hoor ons kon kookboeke saamvat,” sê Farmer met groot oë.

Sy verloofde, Martin Boyder, lag lekker. “Hy het my gebel met dié nuus en ons het altwee gedink hy is op die volgende vliegtuig terug,” sê Boyder.

Farmer (regs) saam met sy Kokkedoor spanmaat Pieter Malan. Hulle is een van vier spanne wat tans kook dat dit spat om gekroon te word as die nuwe Kokkedore van die realiteitsreeks kookkompetisie op kykNET (DStv kanaal 144).Foto: Ian du Toit
Ralph Farmer (heel links) in ’n toneel uit die realiteits-kookkompetisie Kokkedoor, wat tans op kykNET te sien is.Foto: Ian du Toit

Maar te danke aan ouma Bettie, wat nooit volgens resepte gewerk het nie, het hy die knoop deurgehak.

“Ons het maar swaar grootgeword in die Paarl en in die week het ek en my twee nefies by my ouma gebly. Ná skool moes ons elkeen self ons skoolklere met die hand was vir die volgende dag (elkeen het net een stel gehad). Dan het ons huiswerk gedoen en so laatmiddag het my ouma ons geroep om te kom help kosmaak,” vertel Farmer.

Vir hom was dit die hoogtepunt van elke dag. Dan het hy vleis gesny, aartappels geskil, konfyt gekook, deeg geknie . . .

Boyder sê Farmer se kooktalent het sy hart gesteel toe hulle mekaar sowat twee en ’n half jaar gelede ontmoet het. Hulle bly nou saam in Krugersdorp en die R25 000 wat Farmer in verlede week se episode gewen het, is reeds gebruik om hul kombuis op te knap.

Dit was hoeka Boyder wat besluit het om Farmer skelm in te skryf vir die kompetisie wat in Februarie vanjaar verfilm is.

“Ek het eers daarvan uitgevind toe hy my gevra het om ’n paar van die vrae op die inskrywingsvorm te beantwoord,” sê Farmer.

Hoewel hy daarvan droom om eendag kos te maak vir ’n lewe, geniet hy sy werk as vloerbestuurder by die Safari Outdoor-winkel in die Cradlestone-winkelsentrum aan die Wes-Rand in Gauteng.

“Ek hou van kos en was maar nog altyd ’n ronde bolletjie,” sê hy en vryf oor sy maag. “Dalk kry ek binnekort ’n kans om vir ’n bestaan te kook.”suzanne.venter@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.