Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Randfontein: Myne Maatjies gesluit, ‘onwettig bedryf’

Die dagsorgsentrum Myne Maatjies in Randfontein word al ’n dekade lank sonder die nodige dokumentasie bedryf, sê die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling.

“Die sentrum is gesluit nadat dit aan die lig gekom het dat die eienaar sedert 2009 nie ’n registrasiesertifikaat het of aan die munisipale regulasies voldoen om die sentrum te bestuur nie,” sê Thabiso Hlongwane, woordvoerder van dié departement.

Die sluiting kom nadat ’n video verlede week op Facebook versprei is wat wys hoe kinders oënskynlik by dié sentrum in Van der Stel-straat geklap, verjaag en rondgestamp word.

Myne Maatjies, die omstrede dagsorgsentrum in Randfontein. Foto: Werner Beukes

Klagte van aanranding is by die polisie ingedien.

Mariaan van Rensburg, die eienaar, en twee personeellede van die dagsorg is Donderdag deur die polisie ingeneem vir ondervraging en later dieselfde dag vrygelaat.

Sy het kort daarna in ’n video op Facebook erken dat sy ’n seun op die hande geslaan het nadat hy ’n ander kind in die gesig gekrap het.

“Ek het oorreageer en so iets sal nooit weer gebeur nie.”

Van Rensburg sê tugstappe sal gedoen word teen die twee werknemers wat die kinders glo aangerand het.

Myne Maatjies het omgesien na kinders wat tot drie jaar oud is.

Benewens ’n petisie teen die dagsorgsentrum, het besorgde ouers aan ’n protesrit in Randfontein saam met die groep Bikers Against Bullies deelgeneem.

’n Skermgreep van Mariaan van Rensburg in die video wat op sosiale media versprei is.Foto: Verskaf

“Myne Maatjies het nie aan die regulasies van die Kinderwet en munisipale regulasies voldoen nie en het derhalwe onwettig sake gedoen,” sê Hlongwane.

“Enige sentrum waar kinders opgepas word, moet by die departement van maatskaplike ontwikkeling en die gesondheidsdepartement registreer. Daar is regulasies rakende kindersorg, geriewe, veiligheid en onderrig waaraan voldoen moet word. Die personeel moet byvoorbeeld medies geskik wees om met kinders te werk en kennis van noodhulp hê. Daar is heelwat plekke wat nie oor hierdie belangrike vereistes beskik nie en onregmatig bestuur word. As ouers onraad vermoed, moet hulle die departement van maatskaplike ontwikkeling kontak.

“Die vraag na dagsorgsentrums in Gauteng neem toe en kinders hoort in een wat goed na hulle sal omsien en aan die wetlike vereistes voldoen.

“Enigiemand wat ’n dagsorgsentrum wil oopmaak, word verplig om dit te registreer. Dié registrasie geld alle kleuterskole, preprimêre skole en dagsorgsentrums,” sê Hlongwane.

’n Werker wat al ’n dekade by ’n kleuterskool in Randfontein werk, het Woensdag aan Netwerk24 gesê geduld en passie is noodsaaklik wanneer daar na kinders omgesien word.

“Dit is ’n groot voorreg om met ander mense se kinders te werk. Hulle word soos jou eie,” het dié vrou, wat anoniem wil bly, in reaksie op die sluiting van Myne Maatjies, gesê.

Bees Fourie, leier van Bikers Against Bullies, het ’n beroep op ouers gedoen om na vore te kom as hulle vermoed hul kinders is te na gekom by Myne Maatjies.

“Hoe meer mense na vore kom, hoe sterker is die saak,” sê Fourie.

Van Rensburg antwoord sedert verlede week nie oproepe en teksboodskappe van Netwerk24 nie. Sodra sy reageer, sal haar kommentaar bygewerk word.

* ’n Vreedsame protesoptog word op 31 Augustus gehou. Die optog begin om 09:00 by @loos naby die Frans du Toit-apteek in Randfontein en eindig by die Myne Maatjies-perseel. Vir meer inligting bel Santie Gerber, organiseerder, by 076 406 8775.

Meer oor:  Myne Maatjies  |  Dagsorgsentrum  |  Gesluit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.