Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Randfontein: Petisie, optogte teen dagsorgsentrum ná video

’n Aanlyn petisie is die afgelope naweek deur meer as 4 500 mense onderteken om die deure van ’n dagsorgsentrum in Randfontein in Gauteng te sluit.

Dit volg nadat ’n video verlede week op Facebook versprei is wat wys hoe kinders oënskynlik by Myne Maatjies geklap, verjaag en rondgestamp word.

Netwerk24 het verlede Donderdag, toe die storm rondom die dagsorgsentrum in Van der Stel-straat losgebars het, die eienaar probeer kontak, maar kon nie daarin slaag om haar te bereik nie. Die eienaar en twee personeellede is intussen deur die polisie vir ondervraging ingeneem, maar later weer vrygelaat.

“My seuntjie was vir twee jaar by ’n dagsorgsentrum wat deur dieselfde dame elders bedryf is,” het ’n ma, wat ook intussen die aanlyn petisie onderteken het, Sondag aan Netwerk24 gesê.

“Hy het meer as een keer met blou kolle en rooi merke huis toe gekom. Die eienaar se verduideliking was dat hy tydens speeltyd geval het. Hy wou lateraan nie dat ek hom meer daar aflaai nie en het soos ’n neet aan my been vasgeklou. Ek het hom toe in ’n ander crèche gesit,” vertel die ma.

’n Pa wat ook sy dogtertjie uit Myne Maatjies gehaal het, beskou die aantygings as skokkend. “Die groot vraag is egter waar los ’n mens jou kind as jy nie so gelukkig is om ’n familielid te hê wat na hulle kan kyk nie?”

Thabiso Hlongwane, woordvoerder by die Gautengse departement vir maatskaplike ontwikkeling, het Sondag gesê dat maatskaplike werkers in die loop van hul ondersoek ’n verslag oor die dagsorgsentrum sal saamstel.

“ ’n Crèche of dagsorgsentrum is in terme van die Kinderwet verplig om aan sekere vereistes te voldoen. Aan die einde van die dag is die vraag of daar waarheid steek in die bewerings wat gemaak word,” het Hlongwane gesê.

Benewens die petisie gaan besorgde ouers Maandag ook aan ’n protes-rit teen die dagsorgsentrum deelneem. “Ons nooi almal uit om Maandagoggend omstreeks 06:45 by Uncle Harry’s Roadhouse in Randfontein te ontmoet voordat ons na die dagsorgsentrum ry. Dié protes-rit is nie net vir motorfietsryers nie. Almal is welkom,” het Bees Fourie, die organiseerder, gesê. ’n Optog word ook vir Saterdag 31 Augustus na die dagsorgsentrum deur die groep bekend as “Randfontein-mammas teen boelies” beplan.

Netwerk24 het die eienaar Sondag ook weer gebel, maar sy het nie geantwoord nie.

Meer oor:  Randfontein  |  Dagsorgsentrum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.