Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rapport kry 5 vreeslose stemme by

Vyf vreeslose rubriekskrywers sluit in Januarie en Februarie aan by Rapport-Weekliks.

R.W. Johnson
Loftus Marais
Carien du Plessis
Mpiyakhe Dhlamini
Chase Rhys

* Vandag vra R.W. Johnson waarom so baie Suid-Afrikaanse instellings – die spoorweë, waterrade, die SAL en Eskom – misluk.

Dit is omdat die regering die land bestuur soos wat Suid-Afrikaanse sokker bestuur word – met onbekwame skurke in beheer – eerder as om rugby se voorbeeld te volg en op meriete aanstellings te doen.

Johnson is ’n historikus, joernalis en oudlektor aan die Universiteit van Oxford wie se boek How Long Will South Africa Sur­vive? The Looming Crisis in 1977 snydende vrae gestel het oor die lot van die apartheidstaat.

In 2017 volg How Long Will South Africa Survive? The Crisis Continues – ’n fel aanklag teen die ANC, en in Fighting for the Dream (2019) sit Johnson die verdere verbrokkeling van die staat onder Ramaphosa sekuur uiteen.

Johnson se rubriek sal elke maand verskyn.

* Waarom op aarde wil gay paartjies trou – en dan boonop by ’n plek met die naam “Beloftebos”? En waarom hou Beloftebos se eienaars hulle so heilig, vra Loftus Marais vandag in Bekrek, wat elke tweede week sal verskyn.

Marais, ’n Paarliet met ’n MA-graad in kreatiewe skryfkunde van die Universiteit Stellenbosch, is ’n bekende digter en ook die inhoudsregisseur van die politieke nuusprogram Verslag in gesprek wat Woensdagaande om 21:00 op kykNET uitgesaai word.

Sy debuutdigbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, het vyf literêre toekennings ontvang. Sy nuutste bundel is Jan, Piet, Koos en Jakob. Hy woon in Johannesburg.

* Op Sondag 2 Februarie verskyn die eerste gereelde politieke rubriek van Carien du Plessis, en die week daarop volg Mpiyakhe Dhlamini.

Du Plessis is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in die politiek van Suid-Afrika en die res van ons vasteland.

Sy is medeskrywer van die boek Understanding South Africa en in 2017 het ’n boek oor dr. Nkosazana Dlamini-Zuma uit haar pen verskyn.

Du Plessis berig al 17 jaar vir talle Media24-publikasies, asook die Financial Mail en Daily Maverick.

Sy is daarvoor bekend dat sy politici folter, en in haar kommentaar en beriggewing spaar Du Plessis niemand nie.

Dhlamini, wie se eerste rubriek op 9 Februarie verskyn, werk as ’n data-ontleder en navorser by die Vryemarkstigting.

Hy skryf verlede jaar in Sake-Rapport ons moet ernstig besin oor waarom Afrika ekonomies gesproke ’n “non-entiteit” is.

“Terwyl die res van die wêreld maniere vind om die samelewing vooruitstrewend te maak, jaag arm, onseker Afrikane sosialisme na omdat hul politici vir hulle sê as jy swart is moet jy die mag aan politici oorgee.

Dit is wat sosialisme is: Dit gee die staat (politici) dit wat eintlik aan private individue behoort.”

* Op 9 Februarie publiseer Rapport die eerste gereelde rubriek deur die bekroonde skrywer Chase Rhys.

Rapport-lesers sal hom ken as die wenner in die fliekkategorie van die kykNET Rapport-prys vir 2019 vir sy debuutroman Kinnes – ’n novelle.

Rhys, romanskrywer en dramaturg, is in 1989 in Kaapstad gebore en het grootgeword in Ocean View op die Kaapse Vlakte. Hy het ’n diploma in teater en uitvoeringskuns aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

Oor Kinnes – ’n roman oor jong karakters wat vasgevang is in die bendewêreld van die Kaapse Vlakte – het die oud-Rapport-joernalis Anastasia de Vries gesê Rhys sit “die ritme en musikaliteit terug in Kaaps”.

Die gelyknamige teaterteks is in 2017 bekroon met die Adam en Rosalie Small-prys vir die beste debuutskrywer, en die roman het ook weggestap met die K. Sello Duiker-gedenktoekenning vir letterkunde by die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.