Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rapport-leser ontferm haar oor Amy’Leigh se redders

’n Jaar gelede het Hendrik Breedt, die werklose jong man wat saam met sy meisie die ontvoerde kleuter Amy’Leigh de Jager in ’n rowwe buurt in Vanderbijlpark gevind het, mistroostig in ’n dwelmkliniek gesit.

Hendrik Breedt is Vrydag vir sy 26ste verjaardag getrakteer met ’n spesiale pakkie van ’n weldoener in Mbombela. Estelle Venter het besluit om haar oor hom en sy meisie, Savannah Kriel (22), te ontferm nadat hulle die ontvoerde Amy’Leigh gevind het. Foto: Verskaf

Maar gister, op sy 26ste verjaardag, het hy breed geglimlag. Nie net is hy verras met ’n geskenk van ’n weldoener nie, hy is ook reeds 11 maande lank dwelmvry.

Breedt (26) en sy meisie, Savannah Kriel (22), is sedert begin September oorval met goeie wense nadat hulle die ontvoerde Amy’Leigh (6) op 3 September net voor 02:00 in die oggend in Heroultstraat, Vanderbijlpark, gekry het. Breedt en Kriel het toe vir 4 km met De Jager na die polisiekantoor geloop, waar sy veilig aan haar ouers besorg is. Amy’Leigh is die oggend van 2 September voor haar skool ontvoer.

Breedt en Kriel is albei werkloos en bly tans in ’n kamer agter in iemand se erf. Hulle is “straatmense”, het die twee destyds gesê.

Vrydag het Breedt egter aan Rapport gesê hulle voel goed omdat dat hulle Amy’Leigh en haar familie kon help. Hulle het sedert die drama niks weer van die De Jagers gehoor nie.

Hendrik Breedt is Vrydag met ’n spesiale pakke bederf vir sy ses en twintigste verjaardag gister (28 September). Foto: Verskaf

“Dit voel of ’n ou weer iets werd is. Daar is soveel mense wat goeie goed van ons sê en trots is op ons. Man, elke keer as ek dink hoe ons daardie dogtertjie gekry het, kry ek hoendervel,” sê hy.

Een van die weldoeners is Estelle Venter van Mbombela (Nelspruit), wat vir Breedt ’n verjaardaggeskenk gestuur het.

Sy sê nadat sy in Rapport oor Breedt en Kriel gelees het, wou sy iets doen “om hulle ’n tweede kans te gee, soos wat hulle vir Amy’Leigh gegee het”.

“Ek het gelees Amy’Leigh se ouers wil hulle bedank deur vir hulle ’n ete te koop. Ek is ’n ouma en het onmiddellik gedink, sjoe, as dit my kleinkind was, sou ek sommer ’n banklening uitgeneem het om hulle te help,” sê Venter.

Dit voel of ’n ou weer iets werd is.

Deur middel van die polisie het sy met Breedt kontak gemaak en vir hom ’n selfoon gestuur.

Met die hulp van BackaBuddy, ’n groep wat geldinsamelings aanlyn organiseer, is meer as R12 000 teen Vrydag van plaaslike en oorsese skenkers vir Breedt en Kriel ingesamel.

Skenkers sê onder meer sulke onselfsugtige dade moet beloon word, terwyl ander die hoop uitspreek dat dié goeie daad sal lei tot ’n nuwe kans en ’n beter lewe vir Breedt en Kriel.

Savannah Kriel (22) en Hendrik Breedt (26) sowat ’n maand gelede in die straat waar hulle die ontvoerde Amy’Leigh de Jager (6) gekry het. Foto: Deon Raath

Venter sê sy praat gereeld met hulle en help waar sy kan. “Ek wou graag iets spesiaal doen vir Hendrik se verjaardag. Ek het toe goedjies soos biltong en droëwors asook ’n Spur-geskenkbewys gestuur sodat hulle lekker kan gaan eet,” sê Venter.

Breedt en Kriel is baie dankbaar vir die hulp. Hulle het nie weer van Amy’Leigh se ouers gehoor nadat hulle haar gekry het nie, maar dit pla hulle nie. “Ons is net bly ons kon help.”

’n Jaar gelede was Breedt in die Jamela-rehabilitasiesentrum toe hy verjaar het. Hy was ses maande daar nadat hy gesukkel het met ’n dwelmprobleem.

“Ek het met die verkeerde vriende deurmekaar geraak toe ek en Savannah vir ’n ruk uitmekaar was. Maar nou is ek al 11 maande skoon en wil aan almal bewys ek kan beter vaar,” sê Breedt.

Venter sê die doel van die fonds is om hulle te help om hul bestaan te verbeter. BackaBuddy bestuur die fonds en al hul onttrekkings moet goed gemotiveer word.

Breedt sê al die goeie dade het hulle so gemotiveer dat hulle nou soggens vroeg opstaan en gaan werk soek.

“Ek het vandag gegaan vir ’n onderhoud en hoop om ’n werk as pakker by ArcelorMittal te kry,” sê Breedt. Hy dink hy sal ook nogal graag ’n speurder wil wees.

Kriel, wat soms by ’n nabygeleë kroeg as kelnerin werk, sê: “Dit was nog altyd my droom om met kinders te werk. Dalk kan ek nou opleiding kry of ’n kans kry om dit te doen.”suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Amy’Leigh De Jager  |  Werkloos  |  Ontvoer  |  Kleuter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.