Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rasse-debat ‘gaan nog lank ná Sparrow se dood voortduur’

Penny Sparrow, die voormalige eiendomsagent wat drie jaar gelede in ’n Facebook-inskrywing na swart mense as ape verwys het, is Donderdag in Scottsburgh in KwaZulu-Natal dood.

Sparrow het dié inskrywing in Januarie 2016 op Facebook gemaak, waarna die ANC haar hof toe geneem het.

Sparrow se familie het Donderdag gesê sy het in die vroeë oggendure haar stryd teen kanker verloor.

“Die familie doen ’n beroep op die media om hul privaatheid in dié moeilike tyd te respekteer en hulle nie te kontak nie,” lui ’n verklaring wat deur die familie uitgereik is.

penny sparrow
Penny Sparrow is aan kanker dood. Foto: Felix Dlangamandla

Dr. Dirk Hermann bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het sy innige simpatie met Sparrow se familie en vriende uitgespreek. Hy sê die Penny Sparrow-debakel het die kollig laat val op rasse-sensitiwiteit, asook die dubbele standaarde wat met rassisme gepaardgaan.

“Hierdie debat gaan nog lank ná haar dood voortduur. ’n Rassestorm het om haar losgebars en het haar lewe hel gemaak. Sy was ’n gewone eiendomsagent en moes die rassespanning van die hele gemeenskap absorbeer.

“Haar uitsprake was nie aanvaarbaar nie, maar ná haar is baie harder rasse-uitsprake gemaak deur mense met invloed, wat byna geen gevolge gehad het nie.”

Hermann sê hierdie dubbele standaarde is onbewustelik deur Sparrow uitgelig.

Sparrow het woede ontlok toe sy swart baaiers met ape vergelyk het in ’n Facebook-inskrywing aan die begin van 2016.

Sparrow het eers voor die gelykheidshof verskyn en is daarna skuldig bevind aan crimen injuria. Sy is

beboet nadat sy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Sy moes R150 000 aan die Oliver en Adelaide Tambo-stigting betaal as straf, maar die stigting het geweier om die geld te aanvaar en dit destyds as “rassistiese geld” beskryf.

Sparrow het in die hof emosioneel geraak toe sy ’n brief voorlees waarin sy om verskoning vra vir haar gedrag.

Sy het gesê sy besef wat sy gedoen het, was verkeerd en het om vergifnis gevra.

Sparrow het longkanker gehad wat glo na die res van haar liggaam versprei het.

Sparrow het sedert Desember by haar dogter op Scottburgh in ’n woonstel gebly nadat sy vroeër in Boksburg gewoon het.

Sy het ná die voorval na bewering heelwat rondgetrek om verdere openbare aandag te probeer vermy.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het getwiet hy hoop Sparrow sal nou in vrede rus.

Lesufi het geskryf: “Die goeie ding van ons kultuur is dat ons die dooies respekteer. Ongeag die pyn wat u vir ons veroorsaak het, rus in vrede. Die goeie ding is dat nie-rassigheid nooit sal sterf nie, maar apartheid en rassisme

sal beslis sterf. #RIPPennySparrow”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.