Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rassisme oor Joost se dood ‘toets’ vir MRK
Dié foto met die byskrif “Joost is vrek” het Maandag ’n herrie in die sosiale media laat losbars nadat dit glo deur Riaan Lucas op sy Facebook-blad gedeel is. Foto: Facebook

Die beweerde rassistiese Facebook-inskrywing oor Joost van der Westhuizen se dood moet oor dieselfde kam geskeer word as dié van ander wat van haatspraak beskuldig is.

Dit is die beroep wat die VF Plus en Solidariteit Dinsdag op die Menseregtekommissie (MRK) gedoen het nadat ’n klag oor ’n Facebook-inskrywing van Riaan Lucas ingedien is.

Dié inskrywing het Maandag kort nadat Van der Westhuizen se dood bekend gemaak is, ’n herrie in die sosiale media laat losbars en is wyd veroordeel.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder, sê met dié dat die MRK onderneem het “om almal oor dieselfde kam” te skeer wat haatspraak in die sosiale media betref, sal die VF Plus “die MRK hieraan bind in sy ondersoek”.

Solidariteit het Dinsdagoggend aangedui dat hy ’n klag teen Lucas by die MRK ingedien het. Teen die middag het die MRK nog nie bevestig dat hy die klag ontvang het nie.

Lucas, wat glo in Johannesburg woon, het geskryf “Joost is vrek” by ’n foto van ’n man waarop geskryf staan: “Me when I hear a white man has died. RIP Joost.”

Sy Facebook-profiel is intussen gesluit, maar het aangedui dat hy ’n “verkoopsbestuurder” van die “South African Wine Institute” is.

Kontaknommers wat na bewering Lucas s’n is, is in die sosiale media gedeel, maar hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Alberts sê Lucas moet verantwoordelikheid vir “hierdie onaanvaarbare uitsprake” aanvaar.

“Die bedoeling is duidelik dat die persoon bly is wanneer ’n wit persoon sterf. Dit is skokkend en is veral tragies omdat dit gekoppel word aan die afsterwe van ’n persoon wat vir baie ’n nasionale sportheld is.”

Die Facebook-profiel van Riaan Lucas, wat na bewering Maandag rassistiese kommentaar oor die dood van Joost van der Westhuizen op dié sosiale netwerk geplaas het. Die profiel is teen Dinsdagoggend gesluit. Foto: Facebook

Solidariteit sê in ’n verklaring dit is verblydend dat Lucas se Facebook-profiel gesluit is, “maar die persoon kan nie skotvry afkom van hierdie rassisme en disrespek nie”.

“Dit is vir talle Suid-Afrikaners oor alle kleurgrense heen ’n groot skok om so iets te moes beleef op so ’n hartseer dag,” sê Juran van den Heever, kommunikasiebestuurder van Solidariteit.

“Hierdie rassistiese kommentaar moet dieselfde aandag geniet as enige van die ander opmerkings wat in die verlede wye mediareaksie ontlok het en waaroor die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie al opgetree het.

“Wat vir Penny Sparrow en Chris Hart geld, geld vir enige ander Suid-Afrikaner, ongeag jou ras.”

Luidens Lucas se Facebook-blad is hy oorspronklik van Kaapstad en het hy aan die Kaapse Wynakademie studeer.

Die Kaapse Wynakademie het bevestig dat hy in 2011 ’n student daar was. Dié instansie distansieer hom van Lucas se kommentaar.

Terselfdertyd het die Institute of Cape Wine Masters op Facebook gesê daar is geensins ’n verbintenis tussen hom en Lucas nie en dat Lucas nie ’n werknemer van dié instansie is nie.

Die wynliggaam VinPro het ook gesê die Suid-Afrikaanse wynbedryf distansieer hom van die rassistiese opmerkings wat op Facebook versprei is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.