Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rèan kry toe sy regte boervrou

Daar is ’n nuwe vrou aan boer Rèan Clasen se sy en hy is smoorverlief.

“Ek en Waltela (hy wil nie haar van bekend maak nie) is nou al vir ’n maand in ’n vaste verhouding. Ons het mekaar sowat vier maande gelede op sosiale media ontmoet en toe begin gesels,” het Rèan (27) Donderdag aan Rapport vertel.

Boer Rèan en die nuwe liefde in sy lewe, Waltela, wat hy vier maande gelede ontmoet het. Hulle is nou al ’n maand lank in ’n vaste verhouding.

Rèan, wat met pekanneute en druiwe in die Noord-Kaap boer, was verlede jaar te sien in die 11de seisoen van die maat­soek-program Boer soek ’n vrou op kykNET. Hy het kort daarna verloof geraak aan een van die deelnemers, Rox-Zee Veldhuizen (28). Hul verhouding het egter nie uitgewerk nie.

Maar Rèan sê hy is glad nie spyt dat hy deelgeneem het nie.

“Ná al die sleg het daar nou iets bitter mooi gekom. As dit nie vir die program was nie, sou ek nooit vir Waltela ontmoet het nie. Ek het op sosiale media met haar begin gesels en sy het my onthou van die program,” sê hy skaam en lag.

“Sy is ’n wonderlike vrou en kom ook uit ’n landbouagtergrond. Sy is my tipe mens. Ons verstaan mekaar en is baie dieselfde.”

Hy wil nie sê waar sy bly nie, maar dis ver van sy plaas buite Groblershoop in die Noord-Kaap.

‘Ná al die sleg het daar nou iets bitter mooi gekom.’

Nes Rèan, wat verlede jaar as Jongboer van die Jaar deur Raisin SA (voorheen Droëvrugte Tegniese Dienste) aangewys is, is Waltela baie dinamies en hy sê hy glo hulle gaan saam nog baie bereik.

Sy grootste uitdaging tans is die geweldige droogte in die Noord-Kaap. “Dit affekteer my boerdery nie so erg nie want ek is langs die Oranjerivier en ons het genoeg water. Maar my pa, wat met vee boer, moes twee maande gelede al sy beeste verkoop. Omdat ons ’n familieboerdery is, gaan ons nou eers vir ’n rukkie op ander areas as vee fokus.”

Ten spyte daarvan het hy hoop vir die toekoms en hy sê hy is elke dag dankbaar dat hy nog kan boer. Hy glo daaraan om sy werkers en die gemeenskap te help waar hy kan.

“Een van die belangrikste dinge vir ’n suksesvolle boerdery is om goeie verhoudings met jou werkers te hê. Ons bied byvoorbeeld leierskapkursusse en berading vir die werkers aan,” sê hy opgewonde. “Nes my werk vir my lekker is, is dit belangrik dat dit vir hulle ook so moet wees.”

Die 12de seisoen van Boer soek ’n vrou begin op Donderdag 17 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.