Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, sê hy gaan ’n strafregtelike klag indien teen ’n EFF-lid wat hom met die dood gedreig het.
’n Twitter-gebruiker met die naam @tsk_tsheko het Basson gedreig nadat hy ’n skakel gedeel het na ’n berig dat die DA Andile Mngxitama, leier van Black First Land First, by die Menseregtekommissie en die gelykheidshof gaan verkla omdat hy sy ondersteuners aangehits het om vyf wit mense te vermoor vir elke swart mens wat in taxigeweld doodgemaak word.
@tsk_tsheko het getwiet: “Maar vir die eerste keer stem ek met hom (Mngxitama) saam, ons moet hierdie wit diere slag as hulle swart Afrikane doodmaak. Om die waarheid te sê ons moet begin optree deur wit mense soos jy dood te maak, @AdriaanBasson.”

Adriaan Basson
@tsk_tsheko se profiel dui daarop dat hy van Tzaneen afkomstig is. Sy profiel- en agtergrondfoto’s is van mense in EFF-drag
Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF sê dié man praat nie namens die EFF nie. “Die party se leiers dra sy amptelike standpunte oor.”
Basson sê dit lyk of dit ’n “oop seisoen op joernaliste” is.
“Dit is ontstellend en skokkend om te sien hoe iemand vrylik hierdie soort doodsdreigemente op ’n openbare platform soos Twitter maak.
“Ek is nie die eerste nie en sal ook nie die laaste joernalis wees wat op sosialemediaplatforms gedreig word nie. Dis tyd dat ons politieke leiers verantwoordelikheid neem vir die optrede van hul ondersteuners en dié soort haat en beledigings veroordeel, veral in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing.”
Hy gaan die klag by die polisie indien “om hierdie goed geboekstaaf te kry. Ons kan nie ’n land word waar dit normaal is om te vra dat iemand doodgemaak word nie.”
News24 het die kommentaar intussen verwyder.