* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.
’n Bestuurder van 'n Volkswagen Polo en vyf passasiers van 'n bus is dood in 'n ongeluk Woensdagaand op die N7-hoofweg tussen Moorreesburg en Piketberg in die Wes-Kaap.

Die bus van Eldo Coaches word van die toneel af verwyder.

'n Herwinningsvoertuig op die toneel. Die N7 is intussen weer oopgestel.
Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het laat Woensdagaand bevestig ses mense is in die ongeluk dood, ná aanvanklike berigte dat nooddienstepersoneel op die toneel spook om ses mense wat onder die bus vasgekeer is te bevry.
Africa sê die ongeluk het 2 km buite Morreesburg gebeur. "Die twee voertuie het reg van voor gebots."
Dit blyk dat die bus aan Eldos Coaches behoort. Die maatskappy is om kommentaar genader.
"Daar was 16 mense op die bus, waarvan tien beseer is en ses onder die bus vasgekeer is," het Africa aanvanklik laat weet.
Die pad was in albei rigtings gesluit terwyl die nooddienste op die toneel was.
Africa het bevestig die pad is intussen vir verkeer oopgestel.